Wat is dit wat ons vir ons kinders los? En as ons nie kinders het nie? Vrywaar dit ons van die verantwoordelikheid om enigsins ‘n nalatenskap uit te kerf vir wie ookal ná ons mag kom?
Ernstige vrae op so ‘n vaal, winderige see-oggend, dink ek so by myself. Dalk nou nie hoe mense hulle vakansie-Maandag sal wil begin nie. Maar wie weet hoeveel tyd ons oorhet? Elke dag mag die dag wees waarop ek my hoed ophang. Wat ongesê gebly het, bly dan vir altyd ongesê.
Vanoggend stuur ek ‘n stukkie aan vir ‘n klompie vriendinne wat praat oor wat dit beteken om ‘n geestelik volwasse Christen te wees. Jy en ek sal seker ‘n hele rits van goed hier kan aframmel, maar dié persoon se perspektief het my vanoggend vars hierna laat kyk.
Volgens die skrywer is ‘n geestelik volwasse Christen iemand wat in nederigheid die motief agter elke daad en elke huiwering in homself bestudeer. Die Here ken al ons vrese, ons belustighede, ons trots, jaloesie en woede.
Hy wil hê dat ons ook meer bewus moet raak daarvan.
Hy stel nie net belang in wat ons doen of nie doen nie, Hy neem ook notisie van die motiewe daaragter.
Hy wil hê dat ons dit ook moet doen.
Maar om ons harte en gedagtes en eiewil gedurigdeur te ondersoek, vra nederigheid.
Vra dat ons ons ware self sal erken en leer ons (hopelik) om meer genadig te wees.
Wanneer ons ons eie motiewe van agter die rug kan uithaal en op die kombuis-eiland neersit vir almal om te sien, kan ons ophou om ons dade te regverdig en kry ons die geleentheid om net ‘jammer’ te sê. Soos wat ek ouer word, kom ek agter dat dit heelwat minder energie en gedagteskommelings en maagkolke neem om net ‘jammer’ te sê. Want om myself en my twyfelagtige besluite die hele tyd te verdedig is net te veel werk en dit voel vals en ek is moeg vir vals wees.
Wat my terugbring by wat ons vir ons kinders los.
Ons Vermeulen-Potgieter bloedlyn stop by my en my boetie. Hy is nooit getroud nie en ek en my man het nie kinders van ons eie nie. ‘n Paar jaar gelede was dit vir my regtig ‘n vreeslike hartseer gedagte. Niemand sal verder die storietjies vertel van ons oorle’ Vermeulens se geskiedenis uit oupa Jan se oogpunt nie. Niemand sal verder die kuns van tipiese Potgieter-oordadigheid, spesifiek Stelltjie s’n, aangee wanneer dit kom by mense voed nie!
Maar dit beteken nie my nalatenskap moet soos water in die sand wegsypel nie.
Ek lees vanoggend in 2 Samuel 17 hoedat vreemdelinge vir Dawid goed was toe sy eie seun hom wou gevange neem. En een van die kommentare lees:
“But observe how God sometimes makes up to his people that comfort from strangers,
which they are disappointed of in their own families.”
Want vreemdelinge kan familie word. Vriende kan nader as bloed wees. My nalatenskap hoef nie noodwendig die Vermeulen-Potgieter DNS alleen te bevoordeel en aan te vul en te seën nie en in te kleur nie.
My nalatenskap is vir elkeen wat geraak word deur die Een wat hulle in my kan sien.
(Of nie sien nie…)
My nalatenskap is vir elkeen vir wie ek ‘n klip uit die pad kan rol of ‘n pleister kan plak.
(Of vir wie ek gate grou om ín te trap…)
My nalatenskap is vir elkeen wat my pad kruis.
Vriend of vyand.
So, wat los ek vir jou?
Meer as enige iets anders wil ek vir jou HOOP los.
Dat die moontlikheid bestaan dat môre regtig beter as vandag kan wees.
Dat daar vergifnis is selfs vir sondes en verkeerde keuses wat groter as genade lyk.
Dat dit nie saakmaak of jy bloed van my bloed is nie - Sy bloed loop in ons almal se are.
Dat die potensiaal om deel van die Gees-Jesus-God DNS te raak, vir ons almal wyd oop is.
Hoe is dit moontlik?
“Today we fix everything with duct tape.
God did it with nails.”
Comments