top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Gangstories



Hierdie gedeelte in Esegiël was vir my aanvanklik net so opwindend soos die geslagsregisters daar aan die begin van die Bybel. Maar nes met die geslagsregisters, moes ek net eers die waarde daarvan ontdek.


“Hierna het die man my uitgebring na die tempel se voorhof aan die noordekant.

Ons het die buitenste hof ingegaan en by ’n groep kamers teen die noordelike muur

van die binneste hof gekom…

…Voor elke ry kamers was ’n loopgang van vyf meter breed en 50 meter lank.”

Esegiël 42 NLV


Die kamers waarvan Esegiël hier praat is die kamers waar die priesters hulle deel van die offers sou eet, waar hulle die gewyde tempelklere sou aan- en uittrek voordat hulle weer met die ‘gewone’ mense kon meng. Sommige van hulle het permanent daar gebly en hulle sou dan letterlik net tussen die tempel en hulle kamers beweeg.

Alleen.

Of so blyk dit te wees.


Maar dit is níé wat die Here vandag, in hierdie tyd waarin ons leef, van ons vra nie.


“Ek het U boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.


Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar.


Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.”

Johannes 17:14 NLV


Wysheid is om te besef ons behoort nie aan die wêreld nie.

Ons vermy sonde, en diegene wat die sonde kies, kies ons nie as ons beste vriende nie.

Ons vermy plekke van Godsverloëning.

Soms vra wysheid dat ons die stof van ons voete afskud waar die Goeie Boodskap op harde grond val of die varke die pêrels plattrap.


Wysheid is ook om gereeld ons Stil Plek te besoek waar geen klank of kontak van die wêreld ons intieme tyd met ons Skepper kan onderbreek nie.


Maar wysheid is ook om te weet: Ek kan nie hier bly nie.

Ons is nie gemaak om êrens alleen op ‘n eiland Christen te wees nie.


“We are not to spend all our time between

the church and the chamber.”

W. Clarkson


Net in die hemel sal ons seker eendag tussen lof en rus kan beweeg! Maar tot dan…


Dalk het hierdie stukkie weggesteekte wysheid reeds in die tyd van die tempel deurgeskyn, want hoekom sou die gange 5m breed wees? Daar was tog nie COVID nie…?


Sou dit dalk vir die priesters ‘n geleentheid gee om hulle lewens in al sy oppe en affe vir mekaar oop te breek?

Om in ander se hartseer en pyn te deel?

Om saam opgewonde bly te wees oor vreugdes en verwagtings?

Dalk het een van hulle ‘n drukkie nodig gehad?


Sou dit wees om dit wat hulle gehoor het op die Stil Plek te deel wanneer hulle daar uitkom?

Of om ook te leer by ander dít wat hulle van hulle eie Stil Plekke af teruggebring het?


Ek is nie ‘n groot teoloog met ‘n klomp grade agter my naam nie.

Ek wonder sommer maar net.


Selfs vir hierdie ekstroverte-introvert is dit soms lekker om bietjie uit die binnekamer te kom.

En daai gange was darem maar baie wyd…



Jou inspirasie vir die week: Nothing/Something


Comments


bottom of page