“In a world that has run out of options,
let us show them One more.”
Hoeveel mense, wonder ek, sal ons eendag by die oneindig lange Hemelse tafel mis – bloot omdat hulle gedink het hulle opsies is op.
Ek weet Jesus behoort nie maar net nog ‘n opsie te wees nie. (Hy behoort Die Enigste Opsie te wees.) Maar soms is dit hoe ‘n lewe van oorgawe begin. Deur te oorweeg dat daar tog ‘n ander opsie is vir jou leë bestaan, jou eindelose soeke na sin in die lewe, jou teleurstelling met die wêreld.
Slaan die besef my: My lewe beïnvloed dalk net jou opsies.
Is my lewe ‘n aangename geur wat versprei, oral waar ek gaan? Soveel so dat jy my sal vra: “Waar kry jy daarvan?” “Wat is die naam?”
“…gee my ‘n opsie.”
In Psalm 10:17 staan daar:
“You listen to the longings of those who suffer.
You offer them hope,
and You pay attention to their cries for help.”
CEV
Dít is jou opsie.
Soek jy iemand om na die versugtinge van jou hart te luister?
Dit is Jesus.
Soek jy net ‘n bietjie hoop om aan vas te hou?
Dit is Jesus.
Smag jy daarna dat iemand tog net jou hulpgeroep sal hoor?
Dit is Jesus.
Wat jy máák met die opsies wat jy raakloop langs die pad, nou ja… Dit is mos maar waar die eintlike kruks van die saak dan lê!
Die paaie hier in die UK maak my mal. Daar is nie – soos in ons geweste – ‘n paar duidelike hoofpaaie en dan ‘n aantal sekondêre paaie wat daaruit afdraai nie. Hier is daar honderde!! En jy sal dieselfde pleknaampie sien hier op ‘n bordjie wat links uitswaai, en ‘n paar kilometer verder weer op ‘n bordjie wat regs wys. So dalk ignoreer jy die eerste een, want jy sal wel die plek vind agter die tweede bordjie aan.
(Sonder onse satelietstemmetjie weet ek nie hoe ek my weg hier sal vind nie!)
Dieselfde probleem duik egter ook op in die lewe, dat wanneer jy kies om al op die breë pad te bly loop, jy die kans staan om blind te raak vir die menigte afdraai-opsies langs die roete. Ongelukkig weet ‘n mens doodeenvoudig net nie of jy wéér daardie afdraaibordjie sal kry as jy kies om dit nou te ignoreer nie.
‘n Mens weet doodeenvoudig net nie wanneer dit die einde van die pad is vir jóú nie.
Wanneer ons eendag saam aan die tafel sit, wil ek graag jou storie hoor.
Ek wil hoor waar jy op jou pad was toe jy die eerste keer ‘n opsie gehad het.
En as jou paaie lank en ver was, sit ek die ketel aan en skuif ek reg.
Want eendag sal al daai paaie nie saak maak nie.
Net die opsie wat jy gekies het.
Jou temalied vir die week: Greater than all my regrets
Comments