My man herinner my hierdie week weer daaraan dat hy nie blind is nie, maar net geklassifiseer is as “ernstig gesiggestremd”. Hy’s net ‘n bietjie blind.
Maar hierdie bietjie-blindheid van hom het my al so baie geleer.
Van opstaan elke dag en aangaan. Al is een arm agter jou rug vasgemaak.
Van goed wees vir ander sodat hulle beter kan voel. Al voel jy nie altyd goed nie.
Van vertrou in mense om jou. Al kan jy nie in hulle oë kyk om te sien of hulle dit verdien nie.
Blinde geloof.
In my man se geval – ‘n daaglikse geloofsoefening in die goedheid van mense.
Daar is ‘n klompie verskillende videos wat tans die rondte doen op sosiale media waar die jongste kuikensussie deur haar ouer sibbe genooi word om koek te bak. Sy is so opgewonde! En dan, ten aanskoue van Wie-ookal-toegang-het-tot-sosiale-media, breek hulle ‘n eier teen haar klein, blonde koppie en lag hulle dan ‘n papie daaroor.
Sy het hulle vertrou.
Blindelings.
Of hét sy?
Sien, daar is ‘n verskil tussen blindelingse vertroue, en die vertroue wat oop-en-toe, wikkelboudjies water toe hardloop, want ek weet Pappa gaan my vang.
Want Hy hét al.
Ons word so maklik die idee van blindelingse vertroue voorgehou in die storie van Abraham wat vir Isak moes gaan offer.
Die Here sê gaan, en Abraham gaan.
Blinde geloof.
En soms kan ek nie verstaan nie en voel my eie geloof dan so baie ver van daardie ideaal af.
Tot ek by Hebreërs 11:17 kom.
“By faith Abraham, when he was tested
[that is, as the testing of his faith was still in progress], offered up Isaac,
and he who had received the promises [of God]
was ready to sacrifice his only son [of promise];
to whom it was said, “Through Isaac your descendants shall be called.”
For he considered [it reasonable to believe] that God was able to raise Isaac
even from among the dead.”
Hebrews 11:17 AMP
In Genesis word die Kinderkransstories so gereeld in klein kompartementjies met kinderhartjies gedeel, dat wanneer ons eers groter is, dit dalk moeilik is om die hele prentjie te sien.
Maar Hebreërs is nie vir kinders nie.
Wanneer ons meer volwasse in die geloof is, kan ons hierdie brief lees en net weer besef: Abraham se geloof was nie blind nie.
Abraham se geloof het gloukoom gehad.
Diegene wat hiermee gediagnoseer word, noem dat dit is om soos deur ‘n strooitjie na die wêreld te kyk.
Abraham se strooitjie was vasgenael op die beloftes wat ‘n Goeie God oor hulle gespreek het, en toe God van hom die onmoontlike vra, het hy geweier om sy fokus te skuif.
Hy vra nie van ons blinde geloof nie.
Hy vra dat ons sal onthou van elke keer dat Hy ons onregverdiglik geseën en gehelp het.
Hy vra van ons dat ons sal onthou van elke belofte wat Hy gee vir wie ookal besluit om Hom te volg.
Hy weet ons vergeet maar vinnig, so…
“ The Friend, the Holy Spirit whom the Father will send at my request,
will make everything plain to you.
He will remind you of all the things I have told you.”
John 14:25
Ons het nie blinde geloof nodig nie.
Hy gee vir ons genoeg woorde in die Bybel en genoeg regte, egte lewenservarings om Hom maar te glo.
Hy is nie ‘n God wat eiers breek teen Sy kinders se koppe nie.
Jou inspirasie vir die week: Holding onto hope
Commentaires