Wie van julle onthou die boontjiesaad eksperiment van laerskool? As jy so oud soos ek is, is jy dalk al deur rondte twee met jou eie kinders, of as jy gelukkig genoeg is – rondte drie met jou kinders se kinders.
En die opwinding om daardie eerste worteltjies en blaartjies te sien ontwikkel is mos magies!
Maar soms is dit waar die fassinering stop, en kort voor lank moet ‘n vergete, verdroogte, boontjiedraende wattenommertjie asblik toe.
Potensiaal en al.
Hoekom?
Die watte het bloot nie die nodige voedingstowwe wat ‘n jong plantjie nodig het nie. Vir die plant om waarlik te groei na sy volle potensiaal, is dit nodig om omring te word met lewegewende, gesonde grond.
Die watte het ook nie die nodige ondersteuning wat ‘n jong boontjie nodig het nie. Behalwe dat die groeiende wortelnetwerk in die watte verstrengel sal raak, waarteen sal die dingetjie kan rank wanneer die tyd dan kom om op te staan?
Die watte kan nie die water wat die plantwortels nodig het om te groei, vir lang tydperke stoor nie en die plantjie kan geleidelik sterf van die dors omdat die water te vinnig verdamp.
Die watte het nie soos goeie, gesonde grond genoeg suurstofholtetjies wat die wortels nodig het om asem te haal nie.
Uiteindelik kan die plantjie nie oorleef as dit nie verder as die wortelstadium versorg word nie.
Hierdie volgende gedeelte word so maklik uit verband uitgeruk wanneer iemand voel dat hulle finansieel te na gekom is. Maar lees bietjie wat is die eintlike, kontekstuele en woordkorrekte betekenis van Mattheus 13:12
For whoever has [spiritual wisdom because he is receptive to God’s word],
to him more will be given, and he will be richly and abundantly supplied;
but whoever does not have [spiritual wisdom because he has devalued God’s word],
even what he has will be taken away from him.
Matthew 13:12 AMP
(spiritual wisdom = spiritual understanding)
Dit is net so magies om jou eie verstaan van God se woord te sien groei. En wanneer jy meer aandag daaraan gee om meer van die Bybel te verstaan, groei jou verstaan selfs meer en meer verstaan word joune.
Wanneer jy egter tevrede is om maar net die worteltjies van verstaan te sien in jou eie geestelike lewe en jy nie belangstel om meer te verstaan nie, bestaan die gevaar dat jou verstaan mettertyd sal verdroog en jy selfs jou beperkte verstaan van die Here en Sy werking in die Bybel en in jou lewe sal verloor.
‘n Grootmens wat optree soos ‘n kind, is ‘n hartseer ding.
‘n Grootmens wat geestelik optree soos ‘n kind, is net so ‘n hartseer ding.
Wil ek regtig vir altyd kind bly?
Of wil ek beter verstaan van gesonde grootmens wees?
Jou inspirasie vir die week: Changed
Comments