Was jy al ooit so bly dat jy uiteindelik iets op die koggelende wit papier gekry het, dat wanneer jy besef dat dit wat daarop is nie veronderstel was om daar te wees nie, dit bitter moeilik is om DELETE te druk?
Jou eerste verhouding na baie lank, dalk ooit.
Jou betrokkenheid by daardie bediening waaroor jy altyd gedroom het.
Jou nuwe vriendekring waarvan jy, soortvan, per ongeluk deel geword het.
Jou nuwe studierigting.
Jou nuwe stokperdjie.
Jou nuwe lewensfilosofie.
Skrywer Jodi Picoult het eenkeer gesê: "Writing is a process of abandoning the fear of the blank page; editing is a process of facing it again."
Die lewensbladsye wat ons skryf word byna ongemerk meer en meer en meer met elke week van elke jaar wat verbygaan. Dit is eers wanneer ons begin dink waaroor die storie veronderstel is om te gaan, dat ons oog meer gereeld oor daardie knoppie begin gly.
Ek wonder hoeveel pleisters ons kon gespaar het as dit makliker was om te erken dat ons ‘n fout gemaak het? Varke se peule en so aan, jy weet.
Maar die Here het geweet dit sal nie maklik wees nie.
Anders was die verlore seun se storie net 3 paragrawe lank:
Hy maak droog.
Hy erken dit.
Hy skryf ‘n nuwe storie.
Ek word hierdie week nog ‘n dag ouer en alhoewel die grysheid meer wysheid bring, vind ek dat ek myself steeds in die skeen wil skop wanneer ek uiteindelik moet erken dat hierdie nie die pad is waarop ek veronderstel was om myself te bevind nie.
Is jy nie ook dankbaar Jona se storie het nie met die vis geëindig nie?
Want sien, ons het ‘n goeie Goeie Vader wat wil hê dat ons storie ‘n begin en ‘n middel en ‘n einde moet hê, want van die begin af was dit so.
Hy wil hê dat intrige en uitdagings die karakter interessant sal maak sodat die leser gereed sal wees om te luister wanneer dit die karakter se tyd is om sterk te wees.
Vir jare het Johannes in die woestyn, in lappe en met sprinkaanbeentjies tussen sy tande, die nuus van Jesus se koms vertel, en as ‘n nota oor al sy avonture lees ons:
“…the child grew…”
Luke 1:80
Vir die jare tussen Jesus se eerste woorde in die tempel en die begin van Sy aardse bediening op 33, lees ons:
“…Jesus grew…”
Lukas 2:52
Dit is eintlik al waarvoor ons hoef te mik, weet jy?
Ons storie hoef nie perfek te wees nie.
Maar wanneer elke deurstreepte paragraaf of bladsy of hoofstuk gevolg word deur ‘n nuwe een, mag daar van ons ook gesê word: “…she grew.”
Jou inspirasie vir die week: Nobody leaves the same
Comments