Ek onthou hoe baie klein ek nog was toe ek op my driewiel weggery het van die huis af na Sienta Bekker toe, ‘n hele 2 huise weg, menende - ek gaan nie weer terug nie.
Die bome op hulle sypaadjie het die heel lekkerste geklim, ons het broodjies met kaas en Lyle’s gouestroop uit daardie groen-en-goud blikkies gekry, én sy was my beste maatjie.
Ek het net my tandeborsel gevat, want dis al wat ek nodig gehad het.
Dis hoe mens gaan as jy sélf besluit.
Maar soms stuur Hy ons.
Die onbekende in.
Om te doen soos Hy ons vra.
Terwyl Hy voorsien soos ons loop.
Daardie dag toe twee van Syne gestuur is om die donkie-vulletjie te loop haal, kan ek my nou nogal indink hoeveel vrae die dissipels in hulle binneste gehad het.
Maar nie een van daardie moontlike binnetwyfels het hulle gestuit nie.
Ons lees nêrens dat hulle huiwerig in die pad geval het, of verskonend rondgekyk het terwyl hulle gemaak het soos Hy van hulle gevra het nie. Ons lees:
They went and found a colt tied to a door at the street corner and untied it.
Some of those standing there said, “What are you doing untying that colt?”
The disciples replied exactly as Jesus had instructed them,
and the people let them alone.
Mark 11:4-6 The Message
En wat moes hulle sê?
If anyone asks, ‘What are you doing?’ say,
‘The Master needs him, and will return him right away.’”
vers 3
Daar word geglo dat die Here self reeds die eienaar van die donkies se hart voorberei het vir ‘n dag soos hierdie wat sou kom.
Nes Hy die dissipels ook voorberei het om te gaan, antwoorde gereed vir wie ookal sou vra.
Ek besef hierdie week eers dat daar In Markus se vertelling van hierdie verhaal, so ‘n kantnotatjie ingesluit is: die vulletjie sal weer teruggebring word.
Terug, maar verander.
Niemand het nog vantevore op hom gery nie, maar wanneer hy terugkom, sou hy kon vertel dat ‘n Koning op sy rug was.
Soms word ons gestuur.
Die onbekende in.
Om te doen soos Hy ons vra.
Terwyl Hy voorsien soos ons loop.
Soms word ons gehaal.
Die onbekende in.
Om gebruik te word soos Hy wil.
Terwyl Hy ons beter maak.
(En soms lei Hy ons terug waar ons vandaan kom.)
Dissipel en donkie is karakters in dieselfde verhaal.
Diensknegte van dieselfde Koning.
Dierbares van die Here.
Jou inspirasie vir die week: Nobody loves me like you do
Comments