“This resurrection life you received from God is not a timid, grave-tending life.
It’s adventurously expectant, greeting God with a childlike
‘What’s next, Papa?’”
Rom 8:15 The Message
Sy sou vandag haar sestigste verjaardag gevier het. En ek onthou die vonkel in die oog van ons Engelse afgetrede dominee-vriend met die mooi radiostem toe hy vir ons die splinternuwe sonneblomtatoo wys met “Bravest & Best” as ‘n gedurige herinnering bo-oor die goudgeel blomme op sy bo-arm gespan. (Fiona sou dit geniet het, dink ek.)
Vandag het Ds. Chris ons saamgevat na Jakob se sterfbed toe, en na Josef s’n ook. Hartseer, maar nie hopeloos nie.
Want Jakob het onthou van die belofte van die Here aan sy oupa Abraham, en wou homself laat begrawe daar waar die Here gesê het hulle weer eendag sal bly.
En jare later, het Josef óók onthou van die belofte van die Here aan sy grootoupa Abraham, en hy vermaan sy boeties om ‘n reminder op Alexa te stel dat hulle sal onthou om hy wat Josef is se beendere weer saam met hulle terug te vat wanneer daardie belofte van die Here waar word.
Onwrikbare geloof.
Honderde jare na die belofte.
Soms wankel ons geloof voordat dit nog behoorlik pubertiteit kon slaat. Maar nes ons tieners, behoort ons dalk ons geloof dieselfde voordeel van die twyfel te gun as die vreemdelinge wat skielik in jou huis kom plak het.
Nes tieners, vra my geloof soms groot geduld.
Dit het tyd nodig om te groei en te ontwikkel en deur ongeduldig te verwag dat dit goed moet kan hanteer wat dit nog nie reg is om te hanteer nie, raak dit huiwerig om hand op te steek wanneer die volgende glo geglo moet word.
Groot geloof was nie altyd groot geloof nie.
Dit het begin met klein geloof in ‘n groot God.
En hoe hulle dit ookal probeer ontken, tieners hou van eerlikheid.
Hulle kan myle ver deur ‘n voorgee sien.
Dit klink dalk na ‘n teenstelling, maar my geloof groei steeds wanneer ek soms erken dat dit nie vir my voel of my geloof groei nie.
Want die Here is getrou en Hy sal jou voete op dieselfde pad vat as wat jy voorheen geloop het, teen dieselfde bult uit, net sodat jy kan besef hoeveel makliker die klim geword het.
Nes tieners, vra my geloof liefde en aanvaarding.
Het jy al agtergekom hoeveel makliker dit is om in die beloftes van die Here te glo wanneer kop eerste in Sy liefde en aanvaarding induik?
En, nes tieners, is my geloof soms feilbaar.
Met my man se baie beperkte sig, is ek die nominated driver en leser en spell checker en stryker en poefopteller (ons Katie s’n hahahaha). So is ons effens haastig nou-die-dag en daar is nie tyd om poef op te tel voordat ons gou iets in die Wendy huisie gaan soek nie. Maar dis okay, want hy sê ek moet net mooi vir hom wys waar om te trap, dan kan ek later ‘n clean sweep doen.
Vyf treë in, wys ek mooi vir hom waar om te trap, en so wraggies besluit hy om 30 grade en drie treë links daarvandaan te gaan. Reg binne-in een van Kate se pakkies!
Tot vandag toe lag ons nog daaroor, want daar was eintlik geen rede hoekom hy my nie op daardie spesifieke oomblik kon vertrou nie. Hy doen dit al so lank.
Feilbare geloof.
Onfeilbare genade uit die hand van ons Groot God.
Nes tieners wat in annerland gaan au pair, het my geloof so bietjie van haar tienerskoene ontgroei hier in Engeland. Maar net soms nog, loop lê sy op die grond, reg vir ‘n propperse vloermoer oor haar eie onverdienstelike feilbaarheid, maar dan herinner my liewe poeftrapper haar:
Hy het nog altyd vir ons gesorg.
Hoekom sal Hy nou ophou?
Hy is nog steeds dieselfde.
Jou inspirasie vir die week: Chosen
Comments