top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

God praat Afrikaans


God praat afrikaans, brother, God praat afrikaans

ek kan my case even verder vat

net dat Hy my gebed verstaan

as ek verder braak

as ek met Die Herder praat

God praat afrikaans, brother, God praat afrikaans


g’n niemand gaan my stry nie

want niemand ken die lirieke

diepte van ek en Hy nie


verstaan jy? die taal is wedersyds

verstaan jy? so praat die Heer met my

verstaan jy? jy moet maar die Here bly

verstaan jy? want dit gaan nie meer oor my nie

verstaan jy? want ons praat die hele tyd


luister, luister

al wat jy moet doen is om te luister

God praat afrikaans

- Hemelbesem (Simon Witbooi)


Soos Hemelbesem klets en rym verstaan ek dat hierdie kommentaar is op God se meertaligheid eerder as Sy eentaligheid, want God praat Afrikaans vir die Afrikaanses en Engels vir die Engelse en Akan Twi vir die mense van Ghana.


In die Ou Testament praat Hy Hebreeus en elke taal van elke volk wat by Babel die toring wou bou. Later, praat Jesus Aramees en word Sy woorde nog later Grieks vir die Grieke, Latyn vir die Romeine en Afrikaans vir my.


Ek wonder sommer wat is die jongste taal ter wêreld, want dit sal hierdie gedagte nou mooi volrond afsluit. In die groot-G soekmasjien tik ek in: “youngest language on earth”.


En daar staan dit, in vet swart letters uitgedruk: AFRIKAANS.

“Rich in idiom and emotion, Afrikaans was born 340 years ago in the homes of South Africa’s white Dutch, German and French settlers. Not only is it the world’s youngest language, it is one of the smallest, with just 13 million speakers.”[i]


Toegegee, dis ‘n ou artikel, maar in hierdie oomblik raak my gemoed vol en ek sukkel om te sluk. Die rekenaarskerm raak dof en emosie oorrompel my. Wow.


Hoeveel liefde moet hierdie God vir my hê dat Hy ‘n hele taal sou baar met

naamwoorde en werkwoorde

sinskonstruksie, leestekens, idiome

beeldspraak, prosa en poësie…?

Alles net sodat ek kan begin om te verstaan hoe groot die omvang van Sy liefde vir my is.


Die laaste drie weke bring ek al dieselfde boodskap op verskillende bedieningspunte en hierdie teks skyn nou so relevant:


Voordat die einde kom, moet die goeie nuus eers aan al die nasies vertel word.

Markus 13:10


En ook


Op die oomblik is God net geduldig met julle almal.

Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie.

Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

2 Pet 3:9


Wat verstaan ek nie? ‘n God wat verhouding met my, swakke mens, wil hê en nie wil hê dat ek verlore moet gaan nie is bereid om my te ontmoet in die taal wat ek praat.

Méér nog: Hy laat ‘n taal gebore word waarin ek Hom kan loof en Hom kan aanbid.

Sou ek dit kies, is dit ook die taal waarin ek Hom kan vervloek en Hom kan verwyt en met Hom baklei. Maar dit verander niks aan Sy oorspronklike plan om dit tot my heil te gebruik nie.


Hierdie week gliplees ek oor ‘n artikel uit 2016 wat afspeel in Virginia, VSA. Krystal Payne – ‘n Starbucks werknemer – het opgelet dat ‘n sekere man, Ibby Piracha, ‘n gereelde kliënt van hulle koffiewinkel in Leesburg was. Ibby was doof.


Sy het vantevore nooit regtig agtergekom dat daar ‘n probleem was nie, want Ibby sou bloot sy bestelling op sy foon tik en dit dan vir die persoon agter die toonbank wys.


Krystal het egter besluit om iets daadwerklik te doen om hierdie man te help om dieselfde unieke Starbucks ervaring te hê wat enige ander kliënt as vanselfsprekend aanvaar. Oorgehaal en gemotiveer, begin sy toe om haar huidige ASL (American Sign Language) vaardighede op te knap en na ‘n paar Youtube videos en ander self-help oefeninge kon sy toe die volgende keer vir Ibby in sy eie ‘taal’ sê: “Nice to meet you.”


Krystal was bereid om ‘n nuwe taal te leer om iemand ‘n koppie koffie in sy eie taal aan te bied.

Die God wat hemel en aarde en planete in stand hou, was bereid om ‘n kappie op die e te teken met Sy magtige hand sodat ek Hom kon hoor.


Mercy gave the prodigal son a second chance.

Grace gave him a feast.

Max Lucado


So lief as wat ek my taal het, is daar net nie twee enkele woorde wat hierdie wonder genoegsaam kan beskryf nie.


My beste probeerslag sou lees dat

God die Regverdige, met Sy een hand 'n Ander wegstuur om my pakslae te gaan dra,

terwyl God die Liefde, met Sy ander hand my nadertrek en teen Sy bors vashou en weier om my te laat gaan.


En in Afrikaans voel ek Sy asem sag oor my hare streel: “Jy is Myne.”




Jou temalied vir die week: RECKLESS LOVE






[i]http://articles.latimes.com/1992-04-23/news/mn-1287_1_official-language

bottom of page