Vriendin Margreet is van Nederland en oor die Europese weer sê sy altyd so mooi, “dis winter, April maak wat hy wil, en dan is die somer hier!”
Die bome het feitlik al almal hulle blare terug, die reuk van varsgesnyde gras hang in die lug en spookwit kniekoppietjies begin oral hulle verskyning maak. Tog is dit hierdie naweek vir my die eerste keer dat ‘n mens die somer in die lug kan voel.
Dan is mens mos nie lus vir die huis nie.
So gaan ry ons bietjie in die glansbuurte rond gister, Poole is bekend vir ‘n paar van hulle. Die heel-heel-heel mooiste vir my, was egter die eeue-oue bome wat dubbel so hoog soos die dubbelverdiepinghuise op die bult hemelwaarts strek, die goedbewaarde woude sommer so in die middel van die poskode die inwoners se toegang tot ‘n ontsnappingsroete van die lewe sommer so op hulle voorstoep.
Vir ons pad terug stel ek voor ons gaan met die veerboot oor van Sandbanks na Studland. Net 1 minuut op die boot kan jou maklik 30 – 40 minute se ry spaar. Nie dat ons haastig was nie. Sommer net lus vir die pret van met ‘n ketting oor die water gesleep word.
Die tannie met die blikstem sê ons moet hier links en daar regs en ek begin vermoed daar is fout, maar my man se woorde, “just trust the system” is na maande steeds vars in my geheue.
En skielik is ons by die veerboothawe.
Maar nie Studland toe nie… Frankryk toe!
En dit is net 10 minute se ry van ons huis af!
Hier maak ons ons reg vir ‘n gemoedelike uitstappie in die lekker weer om bietjie sightseeing te doen, en dan kom wys die Here vir ons die moontlikheid van soveel meer!
Dit sal nie oornag gebeur nie – daar is visums nodig, en Katie-sitters en p-p-p-ponde – maar wanneer die Here sê dat Hy weet wat Hy vir ons beplan, het ons nie naastenby ‘n idee van die lewe van ontdekking en vreugdes wat Hy uiteindelik vir ons in gedagte het nie!
“No one’s ever seen or heard anything like this,
Never so much as imagined anything quite like it—
What God has arranged for those who love Him.”
1 Corinthians 2:9 the Message
Ons kan nie groter droom as die drome wat Hy oor ons het nie.
En ons hoef Hom nie te beperk net om Sy eer te beskerm nie.
Bid daardie droom.
God sal oor Sy eie reputasie worry.
Jou inspirasie vir die week: God will work it out
Comments