top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

God se X-straal oë


“…God who…calleth those things which be not

as though they were.”

Romeine 4:17 KJV


“…God who…calls into being that which does not exist.”

AMP


Ek wil eintlik ‘n ‘smiley face’ hier agteraan teken! Want as ek vir ‘n oomblik stilstaan en mooi hieroor dink, behoort hierdie woorde ‘n vonk in my te laat opvlam, ‘n verwagting aan te steek.


Want hierdie God sêook goed oor my, proklameer ook goed oor mylewe. En al bestaan dit nog nie vir my of vir die wêreld om te sien nie, weet God watter belofte in my opgesluit lê en Hy spreek dit.


Die Here se beloftes aan my en oor my sal waar word, al voel dit nie vir my so nie.


“Net so is dit met die woord

wat uit my mond kom:

Dit sal nie leeg

na My toe terugkeer nie,

maar dit sal doen wat Ek verwag

en die doel bereik

waarvoor Ek dit gestuur het.”

Jesaja 55:11


Dit is immers die God van die heelal wat die hele aarde en sterre en planete in stand hou, wat oor my spreek.


En as ek net die heel eerste sin in die Bybel met my hele hart kan glo,


“In die begin het God die hemel en die aarde geskape…”

Genesis 1:1


dan behoort ek die res met gemak as die waarheid te aanvaar.


Vanoggend dwaal ek egter op ‘n ander pad met hierdie gedagte saam.


Wat van die woorde wat ek oor ander mense spreek?

Watter effek het dit op mense wanneer ek iets oor hulle uitroep wat nog nie sigbaar is vir hulle of vir die wêreld nie?


Gister se kerkdiens het stilgestaan by Gideon. As jy Gideon se storie ken, sal jy weet hy was nou nie juis ‘n yster nie. Tog…tog praat die Here met hom en sê:


“Die Here is by jou, dapper man!”

Rigters 6:12


En dit plant die saadjie van eiewaarde en dapperheid in Gideon se beeld van homself. Die Here God het dit lankal reeds raakgesien, maar nou kon Gideon homself deur God se oëbeloer. Hy het nouwel nog bevestiging nodig gehad en nog versekering dat die Here hom wil gebruik, maar vir die eerste keer weet Gideon wie hy is: Die dapper man van God.


Dalk moet ek die Here vandag vra om my oë ‘n slag oop te maak vir dit wat Hy in jóú raaksien.


Dalk moet ek Hom vra om my vandag te gebruik om jou die waarde te laat sien wat jy in Sy koninkryk hier op aarde het, dat jy kan weet en besef hoe krities belangrik jy is vir die ekosisteem waarbinne jy beweeg, dat daar geen ander lewende wese is wat die rol kan vervul wat jy op hierdie oomblik, binne in jou omstandighede, met al jou sogenaamde gebreke, vervul nie.


Al kan jy dit nog nie self sien nie.


Wanneer ek dit doen, wys ek vir die wêreld die liefde van die Here en hoef ek nie een woord uit die Woord met hulle te deel nie.


Here, maak my ’n instrument van u vrede vandag. Waar daar (self)haat is, laat my liefde bring.

Waar daar oortredings is, (self)vergifnis, waar daar (self)twyfel is, geloof, waar daar wanhoop is, hoop (in U), waar daar duisternis is, lig (in hulle binneste), waar daar droefheid is, vreugde (in hulle harte).

O, Heilige Meester, gee dat ek, in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos; om begrip te soek, andere sal verstaan; om liefde te soek, andere sal bemin.

Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;  deur te vergewe, dat ek vergewe word. En dit is deur te sterwe, dat ek die ewige lewe beërwe.

Amen


(Gebed van St. Francis van Assisi – geredigeer)


Jou temalied vir die week: I am no victim

Comments


bottom of page