top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Goed is goed genoeg

Updated: Feb 4, 2023




So ‘n paar weke gelede sit ons op die stoep en ou stories praat oor die sproeier wat so lekker spuit, toe eers my oor en toe my oog ‘n beweging by die moerbeiboompie vang.


Die skattigste pokkeltjie van ‘n hommelby was besig om homself te verdrink aan die moerbeiblommetjies, soveel so dat net sy heupies uitsteek! Die spatsels water op sy stêre het hom duidelik nie gepla nie, ook nie die mensgrote twee reuse en hulle balspelende, viervoetige huisdier nie.


Die reserwes van híérdie een uitgeput, sou hy sy lyfie net lank genoeg reverse om ‘n volgende een in die oog te kry en met visie en determinasie sy koppie in daardie blommetjie gaan begrawe.


So gefokus.

So min gepla met wat die mense dink.

So totaal en al onbesorgd oor wat kan gebeur as die sproei ‘n storm word.

Besig met die goed wat die Goeie Vader vir goed bedoel het met sy lewetjie.


Verlede week luister ek na Erwin Raphael McManus se The Genius of Jesus, en hierdie hoofstuk gaan luister ek oor en oor. Want ek weet hy praat met my. Maar ek praat gereeld met jou en ek weet hy praat met jou ook.


Volgens Erwin, as daar nou een ding is waaroor goeie Christene hulle koppe kan breek, dan is dit die vraag oor watter van die opsies voor hulle die Here se grootste toestemming sal wegdra.


Ons is tog so bang om die verkeerde ‘góéd’ te doen.

Want ons intensies is goed en ons wíl goed doen, maar sê nou dit pas nie in by die Here se plan nie?


Dink ons regtig die Here sal ons eendag oor die vingers tik omdat ons die verkeerde ‘góéd’ gedoen het? In ons oë?


Maar hoe gemaak as daar méér as een ‘goeie opsie’ blyk te wees?


Dit hoef nie ‘n ellelange teologiese debat te wees nie.


(1) Waarmee is jy goed?

(2) Wat is daar wat jy kan doen met dit waarmee jy goed is wat die meeste góéd vir die wêreld sal beteken?

(3) Doen dit.

Dieselfde woorde waarmee Jesus die Fariseërs geantwoord het toe hulle luidrugtig teen werk op die Sabbat geprotesteer het, is dieselfde woorde waarmee Jesus jou huiwerende hart wil seën:


“I prefer a flexible heart

to an inflexible ritual.”

Mattheus 12:6 The Message


Sy plan is soveel wyer as die beperkinge van ons eie visie en goeie intensies.


Solank ons met die een hand die goeie doen wat reg voor ons is om te doen en met die ander weier om die soom van Sy kleed te los, sal Hy wat ookal ons doen, gebruik vir Sy glorie en ons goeie geluk.


Goed is goed genoeg.



Jou inspirasie vir die week: The one You love



Comentarios


bottom of page