Min dinge is so lekker as om vir iemand te glimlag, en hulle glimlag terug! Laat my dink aan die gesegde: “Rather be the one who smiled, than the one who didn’t smile back.”
Maar eintlik gaan hierdie week se spoegsel oor soveel meer as glimlag. Ek struikel al die hele week oor “kindness”, of te wel: goedhartigheid. Dis vir my so ‘n mooi beskrywing van die engels, want ek glo dat dit nie moontlik is om opregte “kindness” te bedryf, as die hart nie ook goed is nie.
En ek sê juis ‘struikel’, want die laaste ruk het dit my ‘n paar keer heel onkant betrap waar en wanneer ek dit die minste verwag.
“Kindness” het ook soveel te doen met kindwees, dink ek.
(Ek weet, ek weet… ek is ook geboelie as kleine, plompe, lompe dogtertjie en ja – kinders kan wreed ook wees.)
Maar in hul mees onskuldige vorm – in kinders waar ons grootmense nog nie hulle bewondering vir alles wat mooi en goed is verwring het nie – is klein kindertjies inherent goed en kom hulle met ‘n ingebore reservoir vol goedhartigheid.
Dit beteken dat hulle vir jou sal glimlag, sonder om te wonder of hulle een terug sal kry.
Hulle sal hulle suigstokkie na jou toe uitsteek vir ‘n lekkie, sonder om te dink aan die magdom kieme wat daarmee saamkom.
Hulle sal hulle maatjies kies op grond van laggies, sonder om te dink aan rasse-klassifikasie en kwotas.
Hulle sal saam met die dinosaurus op die TV huil wat nou-net sy mamma verloor het, sonder om te wonder wie hulle sien.
Hulle glo nie net in die mense in hulle lewens nie, hulle glo in die goedheid van mense.
Die lewe het egter ‘n manier om goedhartige harte sinies en swart te maak. “Ek is ‘n aap, maar ek is ‘n ou aap,” hoor ek. Ek weet jy was nie altyd so nie, Oom. Ek weet die lewe het jou seergemaak. Of eerder – mense met swart in hulle eie harte het jou seergemaak. Het die kind in jou seergemaak.
Wanneer ons beginne lees in Genesis, maak ons baie vinnig kennis met die regverdige kant van God, daardie kant wat ongehoorsaamheid nie ongestraf kan laat bly nie. Die harde kant, as ek dit so mag stel.
“The Lord told Moses to say to the community of Israel:
‘If any of you commit a crime against someone, you have sinned against me.’ ”
Num 5:5 CEV
Tog, soos ‘n klein kindjie wat regdeur ‘n skynbaar grommige ou oom se skanse kan kyk, kom sê Dawid dan: “Die Here is my herder.” En dis tog nie hoe jy Iemand wat in Sy totaliteit ongenaakbaar regverdig is sal beskryf nie?
“Jesus roep toe ’n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
Toe sê Hy: “As julle nie met ander oë na die lewe begin kyk en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.”
Matt 18:2 NLV
Dawid sien die volrondheid van God se karakter raak.
Nes God man en vrou geskep het om vir die wêreld ‘n beeld te wys van beide die sterk, regverdige, leier-God en die sagte, goedhartige, dienende-God, netso lees ons dwarsdeur die Bybel van elkeen van hierdie fasette van God en meer… as ons net lank genoeg aanhou lees.
In Mattheus 25 skryf die Koning dan hierdie vir Sy skape aan Sy regterhand:
“ ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed gemaak het. Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’
Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink? En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee? En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’ En die Koning sal vir hulle antwoord:
‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het,
selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’ “
Die regverdige kant van God sê dat as jy iemand seergemaak het, het jy Hom seergemaak en sal jy die straf daarvoor dra.
Die goedhartige kant van God sê dat as jy aan iemand goed gedoen het, het jy aan Hom goed gedoen en sal jy die beloning daarvoor ontvang.
Saam met hierdie hele “kindness”-refrein wat rondom my uit-pop oral hierdie week, bly hierdie wysie ook in my kop dans:
Dis so lekker om die Here te dien (konsertina-beentjies en skud-skud nat-kat-vingertjies)
Dis so lekker om die Here te dien (op-af skouertjies)
Dis so lekker om die Here te dien (draai-draai-draai in die rondte)
Dis so lekker om die Here te dien! (arms in die lug)
Ek wíl meer goedhartig wees, Here!
Elke keer as ‘n random act of kindness (jip – dit gebeur wraggies so baie dat daar ‘n naam daarvoor is: RAOK) na my kant toe kom, dan voel ek sommer baie spesiaal. En elke keer as ek ‘n RAOK na iemand anders toe kan aan-pass, dan word my eie tenkie sommer weer vol.
Maar kos vriendelikheid en goedhartigheid regtig niks nie…?
Enige ego-maniak wat vir een oomblik kan wegkyk van sy selfie-stick sal jou vertel dat dit beslis ‘n duur kommoditeit kan wees.
Daar is geen waarborg of belofte dat dit goed ontvang sal word nie, jou ego en/of jou beursie en/of jou status in jou sosiale omgewing mag dalk ‘n liederlike duik neem.
Mag my goedhartigheid nooit bepaal word deur die ontvanklikheid van ander nie.
Jou inspirasie vir die week: Joy Story - A Tale of a Dog and a Crane
Comments