‘n Mamma uit Amerika skryf dat haar tienerseun graag die proewe vir die skool se basketbal én bofbal wou bywoon. Sy ooreenkoms met haar was dat as hy altwee die spanne haal, vat sy hom vir ‘n fancy roomys êrens. As hy net in een van die groepies ingesluit word, dan kan sy sommer vir hom ‘n draairoomys by die winkel op die hoek koop.
Toe sy hom egter laatmiddag weer optel, moes sy hoor hy het nie ‘n plek in één van die spanne gekry nie. Die volgende dag gaan haal sy hom egter by die skool, vat hom na ‘n heel repektabele roomysboetiek toe en gee vir hom hierdie kaartjie:
“You failed….” basuin die voorkant uit.
Maar toe hy omblaai, staan daar,
“…at something new!
My, how brave you are!
Love, Mom”
As ‘n Christen is daar verseker moeilike goed wat van ons verwag word in hierdie wêreld.
Goed wat ‘n mens nie noodwendig wíl doen nie.
Jesus wou ook nie.
Drie keer vra Hy of Hy dit nie maar gespaar kan word nie.
Maar dan bevestig Hy aan Petrus en die ander dissipels dit wat vir Hom duidelik geword het in Sy eie vuuroond:
“Don't you know that I could ask my Father, and He would at once
send me more than twelve armies of angels? But then,
how could the words of the Scriptures come true, which say this must happen?”
Matthew 26:53 CEV
God ruk ons nie noodwendig uit elke moeilike situasie uit voordat ‘n moeilike situasie aangespreek moes word, of ‘n moeilike grens opgesit moes word, of ‘n moeilike vermaning geuiter moes word nie.
En dit is geen refleksie op Sy mag nie.
“We grow through what we go through,” is nie net ‘n Maandagoggend meme nie. Dit is die mantra van elke belydende Christen.
Want Christenwees is moeilik.
Maar op ‘n dag besef jy dat die moeilike goed makliker word, juis omdat dit op ‘n tyd moeilik was.
Dít is ‘n refleksie van geestelike groei.
Wanneer die Woord van die kop na die hart gaan en uitgewerk word in die daaglikse kom en gaan van kinders van die Here.
Hy het ons nie lief omdat ons aanhou probeer nie.
Omdat ons Hom liefhet, wil ons aanhou probeer.
As ons dan hierdie week faal in iets nuut –
vergifnis,
‘n sagte woord wanneer ‘n harde woord verwag word,
liefde vir diegene wat nie soos ons is nie –
mag ons dan onthou dat Hy steeds ‘n trotse Pa bly.
Jou inspirasie vir die week: Peace
Photo by Clarisse Meyer on Unsplash
Comments