Van kleins af was ek ‘n pokkeltjie, maar gelukkig. Toe die geboelie in die jare daarna begin, sou die ronde appeltjie op my kassie by Stoute Kabouter Kleuterskool egter ‘n nuwe betekenis vir my kry.
Ma Stella se love/hate relationship met haar eie lyf het vir klein Maggie ook ‘n paar dinge geleer. Nie alles goed nie.
Fast forward veertig jaar. Die ouer en wyser ek is vry van ‘n klomp vooroordele van ander mense en onredelike verwagtinge wat ek vir myself voorgehou het. Maar gewig is die een ding waardeur die vyand (soms) steeds sy aaklige geel ogies vir my wys.
Toe manlief hoor sy dokter is ligweg bekommerd, word die besluit daar-en-dan gemaak, en ons spring altwee pens-en-pootjies op die Laer-Cholesterol-Dieetwa.
Dag 1 is nie eers op ‘n Maandag nie, sommer die volgende dag al.
En ons byt vas.
En ek is so trots op ons.
Nodeloos om te sê, maar op Dag 2 was daar geen bespeurenswaardige verandering te sien nie.
Ook nie op Dag 3 nie.
En om doodeerlik te wees, wanneer ons vir die eerste keer weeg op Dag 7 sien ons uit na ‘n beweging in die regte rigting, maar sal die verwagtinge stewig in toom gehou word.
Tog… ‘n Klein verandering is steeds ‘n verandering.
En ja, sal gevier word!
Dit is nou terwyl ek dink aan hierdie kleiner word van ons dat ‘n woord uit Romeine my opval:
“We are enlarged in the waiting.
We, of course, don’t see what is enlarging us.
But the longer we wait, the larger we become,
and the more joyful our expectancy.”
Romans 8:24 The Message
Ek besef dat Paulus hierso geen idee gehad het van ons cholesterolteikens nie.
Dit is nie waaroor hierdie gedeelte gaan nie.
Wat hier beskryf word is die gevolge van ‘n Hoër-Christus-Dieët en die waarde van wag.
Aanvanklik is die verandering skaars ooglopend.
En dan, eendag, maak iemand ‘n opmerking en jy besef: it’s happening.
Ons wag en werk terselfdertyd, met ‘n verwagting. “A joyful expectancy.”
Minder van my is nie ‘n aks so goed as meer van Hom nie.
Groter word is goed.
Groter word is God-goed.
Ek kan met
vrymoedige
roekeloosheid en
‘n totale gebrek aan
inhibisie
groter word
van Hom,
vir Hom.
En tevrede glimlag terwyl dit gebeur.
Jou inspirasie vir die week: Giving in
Comentarios