top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Hartkoppeling

Updated: Feb 4, 2023




Daar is sekerlik erger maniere om uit jou Sondagmiddagslapie wakker gemaak te word as deur ‘n klomp kinders wat bal speel in die park voor jou huis. Met ‘n boonste F#-gilletjie vir drie mate so tussendeur gegooi, net vir die lekker.


Terwyl die groot wedstryd aan die gang is hier onder my venster, dink ek aan die kaboutergesiggie op ‘n skoolfoto gisteraand terwyl ek deur sosiale media blaai.


Die Juffrou het glo met groot verskoning die pakkie met foto’s in Mamma se hande gedruk met ‘n “volgende week neem ons weer” en “so jammer”, en Mamma wonder hoe erg dit dan kón wees?


Totdat sy die fototjies uithaal en bekyk…

Sussie lyk of sy kan slange vang.


Maar Mamma bars uit van die lag.

Want dit is haar meisiekind.

Die een wat van kleins-af haat om gebaba te word en wat beslis nie sou lag vir die fotograaf se pogings met handpoppe en gesigte trek terwyl hy brabbeltaal praat nie.


Hierdie foto’s sal sy beslis níé laat oor neem nie.

Dit is wie haar kabouter is.


Wie van julle het ook sulke vertel-alles-en-weerhou-niks gesigte?

Jou goeie intensies en die Gees ín jou laat jou duidelik verstaan wat die regte ding is om te doen of te sê (of níé te doen of níé te sê nie), maar dit voel of jou gesig ‘n wil van sy eie het!


Die skrywer van die Hebreërboek vertel hoedat ons geroep is om aan te beweeg van die ongelukkige-kleuter-gesigtrek na die volwassenheid van iemand wat hulle identiteit in Christus verstaan:


“So come on, let’s leave the preschool fingerpainting exercises on Christ

and get on with the grand work of art.

Grow up in Christ.

The basic foundational truths are in place…

…God helping us, we’ll stay true to all that.

But there’s so much more. Let’s get on with it!”

Hebr 6:1 The Message


Dit is nie net genoeg om die waarheid van ons verlossing aan ons harte vas te bind, maar te reageer op hierdie lewe asof dit nooit gebeur het nie.

Ons moet elke dag wys dat daar nuwe wyn in hierdie are is.

En dit sluit my gesig in.


Want ek weet en jy weet – dit begin nie by die gesiggie nie.

As my gesig reageer buite die vrug van die Gees, het dit sy oorsprong in my hart.


En deel van grootword in Christus is om dit nie weg te steek of te ontken nie.

Óf dit te probeer regverdig deur die ander ou se aandeel aan my ongelukkigheid uit te wys nie.


Daar is ‘n gesegde wat lui:


Things that you cannot face in yourself is what you will hate

when you see them in someone else.


Ek hoef nie ‘n kleuter in die geloof te bly waar my reaksies gelei word deur die lewe se teater nie.

My gesig het nie ‘n wil van sy eie nie.

Dit kom uit my hart.


En my hart behoort aan Hom.

Hy kan daarmee maak wat Hy wil.

En Hy wíl dit nuut maak.



Jou inspirasie vir die week: I need You more



Comments


bottom of page