top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Hier, daar en oral


Op Jeffreys het my man hierdie nare somergewoonte gehad om die hele huis 05h00 in die oggend wakker te maak sodat ons kan gaan boot ry. Dit klink baie meer glamourous as wat dit was, glo my.


Maar dit was sy ding.


En dan bel hy sommer my skoonies ook wakker sodat boetie Eben en skoonsus Jackie soos blits moes tanne borsel – as hulle sou wou – en saam kom ry, voordat die wind ons wegwaai. Die goue uur na sonop was beslis sy gunsteling tyd!


Ek dink vanoggend daaraan toe ek lui-lui en sonder ‘n alarm my oë oopmaak en verras word met die pragtigste sonskyndag. Woerts-warts is dit toe my beurt om my man bymekaar te maak, sodat ek en hy en Katie sommer ver kan gaan stap op die ooptes van die Greenham Common terwyl ons nog kán skaduwees maak – die wolke sou elfuur weer terug wees.


Vir ons mense terug in Suid-Afrika weet ek dit is nou al vir ‘n lang tyd omgedraai.


Hulle staar stip na die horison en elke wolk se reënbelofte word geweeg. En toe die krane verlede week oopdraai, sien ek hoe hulle harte bars van waardering en dankbaarheid, hoe hulle elke druppel wil opvang en net nog ‘n rukkie langer vashou.


So wil ek met kinderlike verwagting uitsien na stukkies van die Here ook.


Wanneer ek net ‘n effense glimmer van Hom sien, wil ek sommer uithardloop en daarin gaan dans –

sonstraalseties of waternatwals.

Ek wil uithardloop sonder make-up, tande ongeborsel, want ek is so bang ek mis iets.

En as die wolke weer toetrek (hier) of die donker wolke wegbrand (daar) wil ek nie leeg agterbly nie.

Ek wil bly hoop dat dit weer sal gebeur.

Dat ek Hom weer sal sien.

Dalk môre.


Vandag lees ek hierdie oor Psalm 23 en besef net weer dat Hy Homself wíl laat vind.

As ek soek, sál ek Hom sien…


“Die Here is my herder”


…want Hy is JEHOVAH RAAH – my Herder.


“daar is niks

wat my ontbreek nie.”


…want Hy is JEHOVAH JIREH – my Voorsiening.


“Hy laat my lê

in groen weivelde;

na water waar rus is, lei Hy my.”


…want Hy is JEHOVAH SHALOM – my Vrede.


“Hy gee my nuwe krag.”


…want Hy is JEHOVAH RAPHA – my Geneesheer.


“Hy lei my

op die pad van geregtigheid

tot eer van sy Naam.”


…want Hy is JEHOVAH TSIDKENU – my Regverdige Heerser.


“Wanneer ek loop

in ’n baie donker kloof,

sal ek nie bang wees nie,

want U is naby my.”


…want Hy is JEHOVAH SHAMMA – my Teenwoordigheid.


“U stok en U staf

beskerm en ondersteun my.”


…want Hy is JEHOVAH EZER – my Helper.


“U berei vir my ’n feesmaal

voor die oë van al my vyande.”


…want Hy is JEHOVAH NISSI – my Oorwinning.


“U verwelkom my as ’n eregas

deur my kop te salf met olie”


…want Hy is JEHOVAH M’KADDESH – my Heiligmaker.


“en my beker oorvol te maak.”


…want Hy is JEHOVAH MANAH – my Nimmereindigende Goedheid.


“Waarlik, U goedheid en trou

vergesel my

al die dae van my lewe;

en ek sal bly

in die huis van die Here

so lank as wat ek lewe.”


…want Hy is JEHOVAH CHELEQ – my Ewige Erfdeel.




Jou inspirasie vir die week: For the good



Comments


bottom of page