top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Hoe lank is té lank?


Ons het al ‘n paar interessante ontdekkings gemaak hier in Engeland wat ons dalk nooit andersins sou raakloop nie.


In Suid-Afrika was ‘n mens bevoorreg as jy Sondagmiddag ‘n skaapboud op die tafel kon hê. En as ‘n spesiale bederf wanneer Oupa & Ouma Plaas kom kuier, was daar dalk ‘n skaapribbetjie van Kareepan op die vuur êrens oor die naweek.


In ons huis was skaapafval ‘n heerlikheid en ek hóór nou sommer hoe rol sommiges hulle oë.

Kerrie-afval, soos my ma s’n, neig steeds boontoe in my lysie van Afrika-gunstelinge.


Maar dat ons nou so ver moes kom om ‘n lamskouer te ontdek. Tussen ‘n volkie wat nie eintlik smaak het vir ‘n skaaptjoppie nie. Die skande!


My man se neef woon al jare hier en op ‘n kuier by hulle aan huis, maak hy die heerlikste lamskouer met ‘n Midde-Oosterse geurtjie en hierdie Heppells is ge-hook! ‘n Lamskouer het heelwat meer inherente vet as die teenoorgestelde kant van dieselfde dier, so die eindproduk is heerlik sappig.


Met ons eie paar verstellingtjies vind ons dat hierdie reseppie vir ons werk:


Die skouer word eers goed bruin gebraai in bietjie olyfolie en dan eenkant gesit. In dieselfde pannetjie braai jy dan in die olie van gebottelde artisjokharte (nóg ‘n volksvreemde ontdekking vir hierdie affie-plasers) ‘n hele gebroedsel speserye: komyn (my man se nuwe gunsteling), borrie, rooi peper, koljander, gerookte paprika en uiesout, en sodra dit lekker borrel, kom die artisjokharte by.


Hierdie gaan sommer vinnig, en om dan die laaste aanbrandseltjies onder uit die pan te kry, laat loop jy oop met ‘n sterk dosis suurlemoensap.


Die lamskouer is nou al goed gerus en die kan dan lekker met ‘n swaar hand sout ingesmeer word – veral aangesien hierdie een ‘low & slow’ op die vuur gaan.


Ons sit gewoonlik ‘n klomp aartappeltjies onder op die foelie, met die gesoute skouer bo-op, voordat ons die spesery-en-sap sousie bo-oor gooi en die foelie goed toemaak – daar mag nie ‘n druppel uit nie!


Dan is dit vuur toe… Op so ‘n ketelrige tipe braaier met ‘n deksel neem ‘n gemiddelde grote lamskouer so twee, twee-en-‘n-half uur.


Maar vandag s’n was nie so ‘n groot sukses nie en ons vermoed die volgende:


1 – Daar het van die liquid gold sousie ontsnap deur ‘n gaatjie in die foelie

2 – Die lamskouer was te lank op die vuur.


Voel dit vandag vir jou ook of jy te lank op die vuur was?

Voel dit vir jou of die Here vergeet het van jou?

Voel jy leeg van die lewenslus wat vroeër jou pad gedeel het?


As ‘n gemotiveerde Suid-Afrikaner soveel tyd kan neem om ‘n spesiale stukkie vleis met soveel aandag nét die presiese graad van bruin te kry en moeite doen om die regte speserye daarvoor te gaan soek sodat hierdie as ‘n meesterstuk anderkant die vuur uitkom, hoeveel te meer dink jy doen die Vader nie moeite met my en jou nie?


Hy doen moeite deur nooit ‘n oomblik sy oog van ons af te haal terwyl ons in die pan van die lewe braai nie.

Hy doen moeite deur presies die regte mense en situasies en geleenthede oor ons pad te bring wat ons nodig het om alles te word wat Hy wil hê ons moet wees.

Hy doen moeite deur die Heilige Gees vir ons te gee om ons te omsingel van binne en van buite sodat die goeie werk wat Hy in ons begin het, nie sal verlore gaan nie.


En Hy los ons nooit, maar nooit, te lank op die vuur nie.


“I praise you, Lord!

You are my mighty rock,

and You teach me

how to fight my battles.


You are my friend, my fortress,

where I am safe.”

Psalms 144:1 CEV


As die klas nie sal ophou totdat die les geleer is nie, Here,

wat is dit wat U my hier wil leer?



Jou inspirasie vir die week: Midnight


bottom of page