Vir die soveelste keer is ek net te haastig met die grimering en beland ‘n blop maskara op my wangbeen. Maar daar is nie nou tyd om dit te fix nie, en ek hardloop om my perdebootse aan te trek. Vandag is weer ‘n dag van in-en-uit die Pommiekoue.
So vir oulaas gaan piepie voor ek in die pad val, en terwyl ek my hande was, sien ek die langvergete blapskol op my wang. Op die ingewing krap ek aan die druppel en woeps! kom dit met een haal en geen merke af van my gesig.
Snaaks hoe die mees alledaagse goed jou aan die Here kan laat dink as jy Hom toelaat…
Want toe kom dit by my op: In die verlede het my maskaradrama ook gebeur, maar “Ms Perfectionist can’t leave well enough alone…”. So ek vee blitsvinnig (want ek is alweer haastig) met ‘n snesie daaroor en nou sit daar nie ‘n blop nie, maar ‘n vee. Vinnigste gaan wees om ‘n gesigpoeiertjie bo-oor te stof, maar nee – dit help niks. Gryp die onderlaag nader en probeer net die swart skadu toemaak. Ook nie. Al wat sal help is om die een kant van die canvas skoon te vee en oor te begin. Soveel minute later…
As ek dit net tyd sou gee en nie inmeng nie.
Hoeveel makliker sou dit nie wees nie.
Maar hoeveel nee’s maak ‘n ja, Here?
Ek is so moeg om dit te hoor. Dit laat my dink daar’s fout met my.
Is dit hier, Here? Nee.
Is dit hierdie, Here? Nee.
Is dit so, Here? Nee.
Is dit hulle, Here? Nee.
Nou as die antwoord altyd “nee” is, dan is die enigste konstante dan die een wat vra.
Is dit ék, Here?
Soms.
Soms is dit ek.
Maar soms is dit die Here.
Soms wil Hy net keer dat ek my eie grootste kritici word en Sy hele blockbuster move mis. Hoe nou?
“God blesses those people who grieve.
They will find comfort!”
Mattheus 5:4 CEV
Ons Ds. Richard het ook die groot griep gekry en vanoggend kom deel Ds. Jonathan met ons die ware betekenis van hierdie teks uit die oorspronklike Grieks.
“God blesses those people who grieve.
They will be encouraged!”
Die Here wil nie maar net toemaar-toemaar nie.
Hy wil bemoedig!
En optel!
En my liggies op die boude klop met ‘n “jy kán, man!”
As ek bly inmeng waneer die Here se tyd nie my tyd is nie, raak ek moedeloos.
Want ék kry dit dan nie reg nie,
ék kry dit nie uitgewerk nie,
ék is pateties.
Maar wanneer ek dit los – of ek nou ‘n blop van dit gemaak het of nie – en Hom spasie gee om Sy werk in my te volbring, dan word ek bemoedig.
Want nou is dit nie meer in my hande nie, maar in Syne.
So, hoeveel nee’s maak ‘n ja?
Soveel as wat nodig is.
Jou temalied vir die week: Starting now
Коментарі