Deur die wakkerword newels vroeg op Goeie Vrydag sien ek ‘n baie duidelike beeld, al is my oë nog toe.
Links onder in die prentjie… Jesus.
Knielend vooroor gebuk.
In pyn.
Bloeiende ploegvore kruis-en-dwars oor sy rug.
Regs bo sien ek engele vorentoe beur, vegtend met die hindernis wat hulle verhoed om Jesus te gaan versorg, vertroos.
Dis die arm van God self wat hulle terughou.
“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie
en Sy oor is nie te doof om te hoor nie.
Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het
tussen julle en julle God,
dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie
en nie na julle wil luister nie.”
Jesaja 59:1,2 1983-vertaling
Hoeveel weeg die laaste strooi, wonder ek?
Wat is dit wat sou kon maak dat Jesus weier om so Godsverlate op hierdie aarde te bly?
Dieselfde lofprysende skare se “Dood! Dood! Dood!” dreunsang?
Judas se verraad?
Petrus s’n?
Vir ‘n God vir wie gister en vandag dieselfde is…
My eie swakke self se opstaan en val en herhaal?
My onvergifnis wanneer ek vergeet hoeveel ek vergewe is?
My tevrede wees met vormgodsdiens wanneer Hy wag en wag en wag om my te ontmoet waar dieper en wyer paaie kruis sodat ek my vingers in Sy wonde kan druk en mense die spore van verandering in my lewe kan sien?
Hoeveel weeg die laaste strooi?
Al die goed wat óns laat breek onder die gewig van sonde, is die goed wat Jesus daardie dag op Homself geneem het.
En God die Vader draai Sy oor weg.
Daardie Sondag sou dit vir die eerste keer sin maak:
“My juk is sag en My las is lig.”
Mattheus 11:30 19-83 vertaling
Al daardie ander goed, is te swaar om te dra. Daar is net Een wat dit kón dra en gaan aflaai in die doderyk van die hel sodat nie ek of jy ooit daar hoef in te gaan nie.
Hoeveel weeg die laaste strooi wat Hom ooit van ons af sal laat wegdraai?
Ons sal nooit weet nie.
Jou inspirasie vir die week: Believe for it
Comentários