“Our children will hear how
corrupt the government is,
how damaged the earth is, and
how hateful people can be.
Those harsh truths cannot be hidden.
Please make time to show them
the wonders that nature holds,
the beauty that is being created and the
goodness that still exists in the world.
They need that.”
Brooke Hampton
Dit is ‘n realiteit. Dat ek in die wêreld waarin ons vandag leef, voortdurend meer van die bosserige wildernis moet wegsny om by die goeie goed uit te kom. Dit is steeds daar, ons moet net met meer intensie daarna soek. Nes die Goeie Nuus beriggie wat êrens op bladsy 7 wegkruip tussen al die moord en doodslag: Iewers het iemand die waarde daarin gesien om dit uit te grou en in die lig te kom neersit. Maak nie saak hoe groot die impak daarvan is in die groter publikasie nie.
Ek wil ook so wees. Wanneer die donker laer trek om die mense wat ek liefhet, wil ek hulle koppe draai na die lig op die horison. Wanneer hulle voete vassit in die sleurstroom van elke dag se sukkelbestaan, wil ek my gevlegte vingers vir hulle aanbied om ‘n trap te kry na ‘n vasstaanplekkie bo die kolkende water.
Maar soms sukkel ek self.
Daar is dae dat my eie liggie maar effentjies brand en ek eintlik te bang is om my mond oop te maak. Want sommige dae maak die Siberiese winde uit my siel my bang dat ek dalk ander liggiedraers se vlammetjies kan doof. Want dis nie net ons kinders wat die mooi in hierdie lewe moet kan raaksien nie.
Elkeen wat paaie met my kruis, of ons nou hartsgerig dieselfde dink of nie, verdien om by my ‘n stuk optimistiese, radikale hoop te sien.
“Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis
oor die hoop wat in julle lewe.”
1 Pet 3:15
Of ekself die wonder van God se teenwoordigheid in my dag raak beleef, is irrelevant.
Of dit die grootste ateïs is wat my in ‘n hoek wil druk met een-of-ander slim filosofiese redenasie, is onbelangrik.
Wat belangrik is, is dit: Is ek gereed om, wanneer ek (soos die Wiskunde-juffrouens altyd vra) in die middel van die nag wakker gemaak word, ‘n antwoord te gee oor die hoop wat in my lewe?
Of as die mense op my rusbank en langs my etenstafel en oor koffie in die kerksaal praat oor plaasmoorde en grondbesettings en korrupte politici?
Sal ek dan ook die stem in die wildernis kan wees wat uitroep:
“Julle God sê: Gaan praat my volk moed in. Gaan troos hulle.
Praat mooi met die mense van Jerusalem.
Sê vir hulle: Julle gaan nie aanhou swaarkry nie.”
Jesaja 40:1
Die Here weet, ek wil.
Vergewe my as ek jou hoopvlammetjie al ‘n skewe klap gegee het... wanneer ek beheer verloor oor my tong.
Maar God is getrou.
Solank as wat ek hardkoppig aanhou vertel van Sy wonderwerke in my lewe en die lewens van mense rondom my, sal Hy nooit toelaat dat die Ewige Hoop totaal in my hart vervaag nie.
“Ek sal altyd op U bly hoop.
Ek sal altyd vertel van die goeie dinge wat U doen.
Ek sal sonder ophou sê hoe U mense help.
Ek het nie genoeg woorde om al u verlossingsdade mee te beskryf nie.
Hulle is meer as wat ek kan tel.
Ek sal aanhou vertel van al die wonderlike dinge wat die Here gedoen het.
Oor die bevryding wat net U alleen kan gee, sal ek praat.”
Psalm 71:14
Dít stook die hoopvuur binne my! Hoop kweek hoop.
Jou temalied vir die week: What mercy did for me
Comments