top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Hoop soos waatlemoene

Updated: Jan 29, 2023




Moeg ge-klappers-weghou-van-Katie-af-tot-vroeg-vanoggend, ry ons vandag langs die see en kontempleer 2022 soos die amper-half-eeuers wat ons is.


Dit was ‘n uitdagende jaar.

Maar steeds kan ons saam bely: Die Here was goed vir ons en ons s’n.


“Always be ready to give an answer when someone asks you about your hope.”

1 Peter 3:15b CEV


‘n Ou skoolvriend sit vandag die mooiste foto op Facebook van grasgroen waatlemoenskille, krampagtige, wit vingers klouend aan sappige, bloedrooi vlees, en sy nuwejaarswens lui: “Mag jou nuwejaar vol kroon wees!”


Jip, ek is ‘n fan. Ek is een van daardie waatlemoen-bó-chocolate girls.

Maar ek dink ek hou selfs meer van Wicus se woorde.


Van kleins af is ons Vermeulentjies geleer waatlemoene uitkies.

Klop-klop, vir ‘n seker holgeit in die klankgolwe.

Later weer sou ‘n krappie met jou nael teen die buitenste groen vernis jou probeer vertel wat binne aangaan.


Probeer.

Want soveel stroopsoet en krakerige suksesse, net soveel waterige, pap mislukkings.


Maar steeds stap ek somer na somer met dieselfde hoopvolle verwagting op die lorrie gelaai met waatlemoene, net neffens kleiner as klein kalfies, oorkant die Caltex-garage in Jeffreys af, of deesdae in die TESCO-gangetjie met sy kegelbal waatlemoentjies uit Spanje.


En elke keer glo ek dat hierdie een, díé een gaan wees.

En dat die kroon groot gaan wees, genoeg vir deel ook.


(In ons kinderdae sou die kroon vir die grootmense gebêre word.

Nie dat ons kinders enige iets verkeerd kon sien met die footlong lekkertes waarmee jy onder ‘n boom kon gaan sit en behóórlik taai word nie.)


Ek wil elke dag van 2023 benader soos ek my waatlemoene uitsoek: Met die hoop dat hierdie een, díé een gaan wees.


En as dit dan nie is nie, dan wil ek die volgende dag nadertrek met die hoop dat hierdie een, díé een gaan wees.


Maar Petrus verwag meer as dit van ons.


Hy verwag dat ons steeds ons hoop op die perfekte waatlemoen sal deel wanneer mense om ons begin saamdrom ná nog ‘n smaaklose, pap waatlemoen ervaring.


Ook dán, moet ons kan vertel van ons hoop vir daardie Een, die Perfekte Een, wat alles oortref.


As jou kroon partydae maar klein is in 2023,

is my gebed dat

Hy jou die hart sal gee om steeds

te kan getuig van ‘n

beter Kroon wat wag.



Jou inspirasie vir die week: Believe You will



Comments


bottom of page