Gister kuier Yvette en Casper uit Botswana bietjie by ons en Casper vertel weer van ‘n tyd toe hulle die drie velletjies vir die Here uitgegooi het.
In my hart dink ek: “Here, ek het tog ook al velletjies uitgesit?”
Skaam kyk ek binnetoe en erken dat ek mývelletjies loop inhaal het nog voor die antwoord kom, want sê nou net Sy antwoord is nie wat ek wil hoor nie…?
Dit is nou net mooi ‘n jaar vandat ek my Bybel van voor af begin lees het, maar die Here briek my so gereeld by goed wat Hy wil onderstreep in my lewe, dat ek nou eers hier trek – by 2 Samuel 5.
Saul was toe reeds dood en Dawid is gesalf as koning van Israel. Ek lees dat hy Jerusalem weer terugvat vir die Volk van die Here en hoedat sy seuns daar gebore is. Ten spyte van hierdie wonderlike mylpale in sy lewe, het sy uitdagings egter nie sommer net verdwyn nie.
Die Filistyne het die kinders van die Here mos alewig geboelie. ‘n Mens sou dink dat die petalje by die Rooi See hulle sommer vir altyd sou afskrik om moeilikheid te soek met die Uitverkore Volk, maar leer is min en hulle probeer weer.
Dawid, gesalfde van die Here, gaan gooi eers sy velletjie uit en vra die Here of hy moet aanval. Hy vra of die Here self die oorwinning sal gee. En die Here sê ja.
Hy gebruik so ‘n mooi beeld as hy dan later skryf: “Die Here het soos ’n verwoestende stroom water deur my vyande gebreek!” Wonder of hy ook gedink het aan sy voorgeslagte se kampvuurstories?
Duidelik het die Filistyne ‘n ernstige leerprobleem, want nie lank daarna nie, kom teister hulle weer die Israeliete.
En weer vra Dawid vir die Here wat hy moet doen.
Hier wil ek myself eers onderbreek.
Iemand sê nou die dag so in ‘n grappie dat ons nie regtig in Jeffreysbaai bly nie, maar eerder in Jeffreys-waai! Van wat ek hoor, is ons nuwe tuisdorp se winde omtrént legendaries.
As jy nou ‘n binnelander is, kan hierdie wind wat soms so vir dae aaneen waai jou seker maklik ontstig. Tog is daar vir my die wonder daarin dat ons lug altyd heelwat skoner is as die donkerrooi spansel van die Vrystaat, of die koepel van sien-wat-jy-inasem wat permanent oor Gauteng gespan is.
Toe ek kleiner was, het ek gedink dat dit die ry dennebome agter die sinkdam in ons erf by ‘Beesmis Avenue’ (my ma se naam vir ons ou straatjie heel op die rant van die dorp) se skuld was as die wind daar in ons geweste begin waai. Vandag nog laat dennenaalde wat suis in die wind, my daaraan dink.
Die gesuis wat Dawid egter daardie dag uit die bome sou hoor, was ‘n ander tipe wind wat sou waai:
“David asked the Lord what he should do, and the Lord answered:
‘Don't attack them from the front. Circle around behind and attack from among the balsam trees. Wait until you hear a sound in the treetops like marching troops. Then attack quickly! That sound will mean I have marched out ahead of you to fight the Philistine army.’”
2 Samuel 5:23
Dawid het sy velletjie uitgesit, maar hy moes wag.
Die Here gee hom ‘n ander taktiek, ‘n ander aanvalspatroon.
Dawid moes sy planne verander.
Sy goedbeproefde oorlogsresep van die tafel vee.
Hy gaan nie in ‘n lang relaas in van hoekom dit eintlik ‘n goeie plan sou wees as die Here hom net ‘n kans wou gee om dit te bewys nie.
Die Here self gee vir Dawid ‘n nuwe plan… en ‘n hemelse infanterie.
Die Here self sou eerste in hierdie geveg inloop.
En die Here jaag hom aan ook!
“Noudat jy weet wat die plan is, Dawid, waarvoor wag jy nog? Daar is nie nou tyd vir nog ‘n velletjie uitsit nie! Vertrou vir My!”
En dan…
“David obeyed the Lord and defeated the Philistines.”
2 Samuel 5:25
Waar my eie velletjie lê en wag vir die antwoord van die Here, vra ek vir wysheid “to shut up and be still.”
Sodat ek niks mis wat Hy vir my wil sê nie.
Sodat ek die magtige dreuning van oorwinning deur die boomtoppe sal hoor aankom.
Jou temalied vir die week: I’m listening
Comments