top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Hulle kruis is nie my kruis nie


Wanneer die mense wat ons liefhet seer het, kan ons harte so maklik verbrokkel. Ek dink dat dit die méés magtelose gevoel moet wees wanneer jy so graag wil help, maar jy kan nie. Jy weet nie hoe nie.


En soms is hulle pyn so groot dat jy voel hoe dit in golwe bo-oor jou eie voete spoel wanneer jy naby genoeg daaraan kom... wanneer hulle jou toelaat om naby genoeg te kom. Pyn en seer is mos maar 'n private ding vir meeste mense.


Maar ek lees vanoggend 1 Samuel 23 en die Here bemoedig vir my.


Op hierdie stadium was Dawid nou alreeds persona non grata ("a person who is not welcome") in Saul se oë. Die afgunsduiwel in hom kon maar net nie vir Dawid in rus en vrede laat nie.


Een na die ander opskrifte lees so in my Engelse vertaling:

"Michal helps David escape."

"Samuel helps David escape."

"Jonathan helps David escape."


In sy moedeloosheid klink hierdie woorde dan op:


" 'Lord God of Israel... What should I do?' "

1 Sam 23:10 CEV


Daar na sy wegkruipplek, stuur die Here dan vir hom Jonatan - sy beste vriend, selfs nader as 'n broer.


"But Jonathan went to see David,

and God helped him encourage David.

'Don't be afraid,' Jonathan said.

'My father Saul will never get his hands on you.

In fact, you're going to be the next king of Israel.' "

1 Sam 23:16,17 CEV


"And God helped him encourage David."


Vandag sê hierdie paar woorde vir my dat ek nie al die antwoorde hoef te hêvir my geliefdes se seer nie. Ek hoef nie te verduidelik hoekom of waarom nie.

Die Here God sal my help om hulle te help.


Ek hoef ook nie kliphard te werk om hulle geloof op te bou of in stand te hou nie.

Wat ek moet doen, is om namens hulle te glo.

As ek die waarheid en lig kan sien wanneer hulle eie oëte swak is en die donkerte dreig om hulle te verswelg, moet ek die een wees wat by die Here gaan hoor wat hy vir hulle wil sê.

Moet ek die een wees wat vir hulle kan lei na die moontlikheid van 'n beter môre.


"Then Jonathan went home,

but David stayed at Horesh."

1 Sam 23:17 CEV


Net omdat ek hulle kon bemoedig, beteken egter nie hulle seisoen van seer kom tot 'n einde nie. Dawid bly in daardie donker woud agter terwyl Jonatan huistoe gaan.


Ons kan íéts doen wanneer ons hartsmense swaarkry. Maar soms is die swaarkry deel van God se seisoen van groei en sou dit hulle meer skade as goed doen as ons hulle dit wou spaar.

Die saad wat onder die grond lê breek tog nie sonder moeite deur die harde aardkors na die lig en oorvloed nie.


Dis so vrek moeilik. Hoe graag sou ek nie die kruis vir hulle wou dra nie, Here!

Maar hulle kruis is nie my kruis nie.

Laat my dan vir hulle wees wie U wil hê ek vir hulle moet wees.



Jou temalied vir die week: Miracle or not


コメント


bottom of page