top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Hy doen die res




Toe ek nog ‘n student in Bloemfontein was, sou ek gereeld gevra word of ek van Upington af kom, want daar was glo iemand wat nes ek gelyk het in daardie omgewing in daardie tyd.  My doppelgänger, soos die Duitsers dit sou noem.

 

Díé Tomas waarvan ons in die Bybel lees se naam beteken “tweeling”, en as hy vandag nog geleef het, moet ek wonder – sou mense my ook kon verwar met die Tomas van Johannes 20 wat so openhartig met Jesus was oor sy eie tekortkominge, sy eie twyfel?

 

Ek wil glo dat Tomas nie ‘n slegte ou was nie.

Dalk was sy Glo teen daardie tyd net al soveel houe gegee dat hy dit eerder styf teen homself wou vasdruk voordat dit heeltemal aan flarde was.

 

Vanoggend besoek ons ‘n gemeente waar ons nie weer sal wees nie, en dit laat my wonder of ons juis daar moes wees net vir hierdie spesifieke boodskap op hierdie spesifieke dag.

 

Sien, Tomas, dieselfde Tomas wat eers moes sien voordat hy kon glo, se Glo het toe so groot geword dat hy dit oral moes begin uitdeel. 

 

Hy kon dit nie vir homself hou nie.

 

Want Sy Glo het sy hart volgemaak en sy siel en sy voorkamer en sy badkamer en sy spens en sy yskas en die gat onder die trap en hy kon net nie anders nie.

 

Jesus sterf in die jaar 33 n.C. en in 52 n.C. land Tomas in Indië.

Dis hoe ver hy sou gaan om sy Glo te deel.

 

Twintig jaar later word hy ook vermoor deur die fanatiese, jaloerse geloofsleiers en sy woorde van lank gelede kry ‘n nuwe betekenis:

 

Then Jesus became explicit: “Lazarus died. And I am glad for your sakes that I wasn’t there. You’re about to be given new grounds for believing.

Now let’s go to him.”

That’s when Thomas, the one called the Twin, said to his companions,

“Come along. We might as well die with him.”

John 11:14 The Message

 

Tomas sterf.

Maar vandag is daar rondom 30 miljoen Christene in Indië, net omdat Tomas nie bang was om sy baie werklike struggle met die Here te deel nie.

 

En vandag, in ons dorp hier in Poole, Engeland, is daar ‘n kerk vir Indiese Christene waar hulle Sondae bymekaar kan kom en in hulle eie taal die Here aanbid.

 

Ek spekuleer nou sommer, maar dalk het Tomas gesien hoe saggies Jesus werk met die man in Markus 9 wat sy ongeloof onbeskaamd voor Jesus se voete oopgooi.

 

Jesus draai nie sy rug op hom nie, Hy help hom.

Hy help hom glo.

Deur ‘n kragtige wonderwerk te verrig wat niks te doen gehad het met die grootte van die man se geloof nie.

 

Ons dien nie ‘n God wat perfekte mense liefhet nie.

Ons dien ‘n Here wat onvolmaakte mense gebruik om Sy volmaakte liefde vir die wêreld te gaan uitdeel.

 

Onvolmaakte mense wat wíl glo.

Hy doen die res.

 

 

Jou inspirasie vir die week:  Know You will


bottom of page