Familie aan ons Heppell-kant se eerste baba-dogtertjie is besig om haar voete te vind.
Letterlik.
En vandaar, uit hulle woonstel hoog bo Den Haag, kry ons movies van haar moedige treëtjies en mamma en pappa se aanmoediging, maak nie saak hoe lank dit vat of hoe wankelrig dit is nie.
Ek wens ons kon daardie verwondering behou.
Te maklik, voel dit vir my, raak perfeksie ons enigste maatstaf. Trek ons Mattheus 5:48 so ver van sy skarniere af dat dit eintlik skeef hang…
“Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”
1933-vertaling
Ander mense sukkel om ons dwarslatte oor te kom.
Maar ons grootste teleurstelling is wanneer ons dit self nie maak nie.
En die grootste aanmoediger van hierdie trant van gedagtes, is die vyand van jou siel.
Hy is een van daardie soort obsessiewe sensasiejagters wat sy tentjie deur die nag langs die pad sal gaan opslaan, net sodat hy die volgende dag ‘n voorste sitplek kan hê wanneer jy die eerste keer struikel en hy kliphard kan lag en gedagtes in jou brein kan plant van watter teleurstelling jy nou eintlik is.
Hy voel veilig, tevrede dat jy hom nie sal uitvang nie, want wie sal nou die moed hê om die Bybel te bevraagteken…?
“Wees volmaak.”
Dieselfde 1000-vrae-‘n-dag wat tjokkertjies laat groei in hulle denke, is egter dieselfde 1000-vrae-‘n-dag wat Christene ‘n volronde verstaan gee van die evangelie.
Deel van daardie 1000-vrae-‘n-dag vir Christene is om te krap en te kyk en te soek na konteks, historiese korrektheid en die betekenis van basiswoorde uit die antieke geskrifte.
“You, therefore, will be perfect
[growing into spiritual maturity both in mind and character,
actively integrating godly values into your daily life],
as your heavenly Father is perfect.”
Amplified Bible
Daar is iets soos imperfect progress.
En dit is ‘n wonderlike ding.
Dit beteken dat ek nie myself hoef te stenig elke keer wanneer die vrugte van my gees soos 10-dae oue wetenskapeksperimente op die yskas beginne lyk nie.
Wanneer my liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing nie elke dag perfek is nie, beteken dit níé dat ek uit die hemel geskop word nie.
Maak nie saak wat die duiwel jou probeer wysmaak nie.
Paulus bemoedig so mooi vir Titus in hoofstuk 2 van sy brief:
“We are filled with hope, as we wait for the glorious return
of our great God and Savior Jesus Christ.
He gave Himself to rescue us from everything evil
and to make our hearts pure. He wanted us to be His own people
and to be eager to do right.”
verse 13,14
Eerder as om myself te kasty oor die liefde wat ek nie bewys het nie, of die selfbeheersing wat ek nie aan die dag kon lê nie, wil die Here hê dat ek my ingesteldheid moet verander.
Dat ek sal sóék na geleenthede om liefde te bewys, vreugde en vrede en geduld en vriendelikheid, goedheid en sagmoedigheid te deel en selfbeheersing te oefen, want so wys ek vir die wêreld dat ek aan Hom behoort.
Hy vra nie van ons perfeksie nie.
Net dat ons sal groei.
Jou inspirasie vir die week: Greater still
Comments