top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

In ruimte kan ek rus


Gister word Poole my en my man se speelgrond soos ons rondsnuffel vir plekkies met die beste atmosfeer en karakter vir ‘n fotosessie – hou gerus ons sosiale media dop vir die volgende episode in ons oorsese avontuur!


Ewenwel, so met die gelag en skerts en beplanning vir die volgende sessie, ry ons by die winkelsentrum in en ek parkeer. Net om te besef dat ek my beursie by ons vorige skietplek moes vergeet het…


Onmiddellik trek my hart en my fokus ‘n kringetjie om my en kan ek voel hoe die angstigheid in my opstoot. Maar, ons ken nou al hierdie land en sy mense, en meer nog – ons voel die Here se guns en ons glo en vertrou en ons eerste reaksie is níé om al wat ‘n bankkaart is te kanselleer nie.


Oppad terug na die koffiewinkel bel my man solank vooruit, en ons raak rustig, want, ja – hulle het dit gekry, en dit wag net daar vir ons. En ons kan weer asemhaal.


Vanoggend kom stap hierdie vers deur my gedagte toe ek weer daaraan dink, maar soos ek rondkrap kom ek op die 2020-Vertaling af:


“In my angs het ek geroep: ‘Here!’

Hy het my geantwoord;

die Here het vir my ruimte gemaak.”

Psalm 118:5


Wanneer angsoomblikke ons oorval, is dit so maklik om vir ons voete te kyk. Dis ons manier om te probeer keer dat ons nie verder struikel nie, maar soos ons Matthew dominee vanoggend weer deel: Wanneer ‘n mens trail running doen, is die beste manier om jou voete stewig te hou, om jou kop te lig en juis níé vir jou voete te kyk nie. So gee jy jouself ruimte om te reageer.


Ek dink dieselfde geld vir trial running.

En elke Christen kan sy eie storie hiervan vertel.


In die afgelope paar jaar het die Here soveel keer ons voete stewig gehou wanneer dit gevoel het asof hierdie roete te veel van ons gaan vra. Maar hierdie week het die Here my net weer laat besef hoeveel genesing moontlik is, toe ek kon uitreik na een wat my siel verkrag het. Of so het dit vir my gevoel.


(Skuus vir die kru beeld, maar as jy al daar was, sal jy weet.)


My hartklop was rustig en my wense opreg.

En reaksie of nie – ek besef ek is heel.


Die Here het nie net vir my hopie hartstukkies ‘n plek gemaak nie.

Hy’t vir my hele mosaïktafel met herstelgom en genadevuller ruimte gemaak by Hom.

En in ruimte kan ek rus.


Hy maak ruimte ook vir jou.



Jou inspirasie vir die week: Just like Jesus



Comments


bottom of page