Ek weet nie of dit net my grootmensself is wat bloot fragmente van klein-Maggie se Jona-belewenis kan onthou, en of die laaste hoofstuk my so ontstel het dat ek dit in die jare wat kom, heeltemal eenkant en ver iewers gaan toesluit het nie.
Maar die wiel draai en die uurglas loop leeg en sedert die begin van my Bybel-van-voor-tot-agter-lesery moes hierdie dag seker kom: Jona 4 – “Jonah Gets Angry With the Lord”.
Moet asseblief nie nou ophou lees nie.
Want die Here was nog nie klaar met Jona nie.
So groot as wat ons kinderkransogies was oor die wonderwerk dat die vis vir Jona heel en lewendig uitgespoeg het, en soveel as wat die kinderkranstannies ons die wonder wou laat sien dat die Here ‘n hele sondige stad se lewe gespaar het omdat een man gehoorsaam was (uiteindelik), net so groot is my verbasing toe ek hierdie absurde, vingerwysende hoofstuk na al die jare weer raaklees.
“Jona was baie ontevrede omdat die Here van plan verander het.
Hy het baie kwaad geword vir die Here…
…’ek het voor my siel geweet U is die God wat mense vergewe en hulle jammer kry.
U is geduldig met hulle en gee vir hulle om.
U kry altyd later spyt as U besluit het om hulle te verwoes.
Laat my tog nou maar liewer doodgaan, Here. Dit is beter as ek nie verder bly lewe nie.”
Die Here vra hom toe: ‘Het jy die reg om vir my kwaad te word?’ “
Jona 4 Die Boodskap
As dit nie so ‘n ernstige oomblik was nie, sou ‘n mens amper hieroor kon lag, so belaglik is dit. Want Jona was kwaad omdat die Here hom gebruik het presies waarvoor die Here hom geroep het – om sondige mense se oë oop te maak en hulle terug te draai na die Here.
Maar hoekom dan?
Want sy eer was gekrenk. As welbekende profeet (en getroue kerkganger en ondersteuner van die gemeente en eerbare lid van die gemeenskap) het hy hulle gewaarsku hier kom ‘n ding… en toe verander die mense van Ninevé, en die ding loop en verdwyn.
Sy wettiese self wou sien dat geregtigheid geskied, nie genade nie. Vir hom sou God Sy grootheid bewys deur die mag van Sy verwoesting. Min wetend dat die grootheid van God lê in die omvang van Sy liefde vir mense.
Sien ek van myself in Jona?
Kry die duiwel sy sin wanneer ek voel hoe my eie menslikheid tevrede tintel as die sondaars hulle vingers verbrand en die blinde sambok met ‘n knal geklap word?
Breek my hart nog oor die hoop wat hulle mis?
Juig ek nog saam met die hemel oor elke nuwe siel wat sy eie hemel voordeursleutel kry?
Die doel van die Bybel is om te leer en bemoedig en troos.
Nie omdat ek myself daarin sien nie.
Omdat ek God daarin sien.
Sien ek nog die Liefde?
“Life is complicated and friendship with God does not make it less complicated.
But as I get older I am realizing that I would not have it any other way.
Internally I sometimes wish that life would be perfect rather than just occasionally good.
But I think it’s a mistake to presume that a perfect world would be better than a free world.
Love needs a place to live and grow and prove itself and
that can only happen where tragedy is possible.
Still, sometimes life is too much to bear.
Occasionally an extreme circumstance interjects itself into your life and
your ‘live, laugh, love’ sign proves to be even more absurd than it normally does.
I have a sign.
It hangs in my heart and goes like this: ‘Have mercy on God’.
Forgive me if this offends you, but I have a better friendship with God because
I remain soft hearted and tender toward Him in a life where sometimes
nothing makes sense.”
Andy Squyres
Jou inspirasie vir die week: Cherry Blossoms
Kommentare