Dat ‘n mens juis in ‘n tyd soos hierdie deur Jeremia moet werk, is nie vir my maklik nie. Gewoonlik staan ek vroeg-oggend op met 2 wetes in my hart: “Hierdie dag kan ek nie alleen ingaan nie – ek sal dit nooit maak nie,” en “vandag gaan ek weer iets nuut van God se genade leer.” Want dit is hierdie genade wat so ‘n groot deel uitmaak van my pad op aarde en dit wat ek geroep is om te deel.
Die eerste gedagte dring my steeds as die wêreld nog stil is daarbuite en die voëltjies hulle eerste koortjie vir die dag sing. Maar genade… in Jeremia? Ek moet erken: party oggende faal my entoesiasme klaaglik. No pun intended.
“Ek weet nie hoekom ek so moet ‘suffer nie’,” het tannie Stienie altyd laat hoor.
In hierdie tyd waar alles op sy kop gedop is en dinge rof lyk vir die armstes van die armes, gaan hierdie sielsgebed seker in swerms op hemele toe.
Moet die vingerwysings van Jeremia nie dan juis nou eerder plekmaak vir hoop en inspirasie en stories van genade nie?
Tot ek besef: Dit is presies wat Jeremia doen. Want daar is geen ewige hoop sonder Christus nie.
As hy nie in die diepste plekke van seer mense se aandag kan trek na die enigste Redding toe nie, wanneer anders sal hulle na hom luister? Maar dit is hoe dit was. Dit het hom soms so ontstel dat hy nie sy trane kon keer nie. “The Weeping Prophet” word hy ook genoem.
Die genade waarvan Jeremia praat, is ‘n terugwysing na elke keer dat die Here Sy hand van genade na hulle toe uitgesteek het, al het hulle dit elke keer in die as geslaan.
Die genade waarvan Jeremia praat is ‘n hartskreet vir Juda en Israel en die mense van Jerusalem om terug te dink aan hulle sonde en tekortkominge en hoe die Here soveel keer vantevore hulle gered het van hulself – al was dit nie altyd lekker nie.
Die storie van Sy genade in Jeremia lê juis daarin dat Hy nog praat, dat Hy nog Sy plan deel, dat Hy nog moeite maak met die mense wat dit die minste verdien.
‘If God treats you well by teaching you a disastrous lesson, you never forget it.”
Ek is nou eers in hoofstuk 6 en dit raak aan my hart. Dis asof die Here soos ‘n moedelose ouer vir die mense van Jerusalem moet verduidelik hoekom hulle moet badkamer toe. En selfs in Sy driftigste woorde, kan ek die liefde hoor van ‘n Pa wat moet straf sodat ‘n groter straf nooit sy kind sal te beurt val nie.
Terwyl ek so antwoorde soek vir hierdie deel waarin ek maar bitter min hoop kan vind, word ek vanaand egter herinner daaraan dat dit hierdie einste Jeremia is wat ons aanhaal in die tye van mense se grootste soeke na bemoediging.
En toe onthou ek ‘n ander deel wat ek raakgelees het in hoofstuk 5:
“ I will tell their enemies:
‘Go through my vineyard.
Don’t destroy the vines,
but cut off the branches,
because they are the people
who don’t belong to me.’ “
Jeremia 5:10 CEV
Gaan deur MY wingerd.
Alles en almal behoort aan MY. EK bepaal die tyd van hulle straf.
Knip die lote, maar los die wynstok.
EK bepaal die diepte van hulle beproewing.
Díé wat oorbly, is díé wat die naaste aan die wynstok is.
EKSELF sal hulle nuwe lewe gee.
Die wat verwoes word, het MY nooit regtig geken nie.
Dáár is my hoop. Dáár is die genade. As ek bly staan aan die einde van hierdie beproewing, is dit omdat ek aan die Here behoort.
Nie omdat ek nog ‘n werk het,
of omdat ek nog ‘n dak oor my kop het,
of omdat ek nog my lewe oorhet nie.
Maar omdat ek deur dit alles nie my gebondenheid in Hom verloor het nie.
Omdat ek geweier het om die Here te verloën.
Dit beteken nie ons kom weg van die gevolge van ons eie sonde nie.
“ ‘Julle sal 70 jaar lank in Babel wees…
Maar dit beteken dat daar ook vir ons genade is.
…Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul.
Ek sal julle na julle land toe terugbring.’
‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here.
‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.
Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister.
As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.’ “
Jeremia 29:11 NLV
Ja, Jeremia, soveel genade…
Jou temalied vir die week: Back to the altar
Comments