“When civilization becomes corrupt,
and men are living below their faith,
I think it may often be in mercy
that God strikes the nation with blindness –
that the only remedy lies in thus taking away
any influence which they resist,
and leaving them the stern lesson of
self-dependence.”
Vergewe my, Here, as my allegorie onnadenkend en disrespekvol klink.
Dit is nie die intensie nie.
U weet, want U sien die hart van die mens raak.
Maar ek wonder, Jesus…
(so baie van die wat U kinders is én die wat nog balhorig bly uitbreek uit U liefde, wonder ook, Here, al sou hulle dit gemaak-ongeërg ontken)
Ek wonder oor baie goed, Jesus,
maar vandag wonder ek of ons isolasie in breë lyne met U eie vergelyk kan word?
Ons hoor ons moet ingaan,
die deur toemaak,
en eers weer uitkom wanneer die tyd reg is,
om so (onder andere) ander mense se lewens te red.
U gaan in,
die klip word oor die ingang gerol,
en U sou eers weer uitkom wanneer die tyd reg was.
Om so onse mense se Ewige lewens te verseker.
Ons verstaan nie.
Vir sommige van ons is dit swaar,
en dis seer en dis onverstaanbaar.
Vir baie is dit ‘n straf wat alleen gedra moet word.
Vir ‘n oomblik aan daardie kruis
was dit vir U swaar en seer en ook so
verskriklik alleen.
Drie dae van donker alleenheid.
Ter helle neergedaal
of saam met die dief in die Paradys?
Die dae van isolasie neem sommige mense
na hulle eie private hel van
verwerping of mishandeling… of beide,
terwyl ander weer die deel van die paradys
wat hulle eens op ‘n tyd verwerp het
ter wille van die dinge van die wêreld
weer van vooraf ontdek,
afstof, minlik beskou.
Wanneer die dag kom dat ons klip weggerol word
mag mense ons dalk nie herken nie…
ons normale self dalk vol
letsels waar onnodige limpome (vetkliere)
kundig en kunstig en met groot empatie verwyder is.
Die vrouens het U nie herken nie, Jesus…
U verheerlikde liggaam so ver bo hulle menslike
denke en verstand.
Maar U lag nie.
U spot nie.
U verwyt nie.
U troos.
Drie dae alleen in die hel om vir die wêreld ‘n Paradys te wen waar ons nooit weer alleen hoef te wees nie.
“Those who walked in the dark
have seen a bright light.
And it shines upon everyone
who lives in the land
of darkest shadows.
Our Lord, you have made
our nation stronger.”
Isaiah 9:2 CEV
In my #lockdown
kom die son elke oggend op
en kan ek die goedheid daarvan
op my vel voel.
In my #lockdown
hoef ek nie die wêreld te verlos van
al sy sonde en pyn nie,
kan ek fokus op díé wat
saam met my
hierdeur
stry.
In my #lockdown
weet almal
en glo almal
die einde
(die nuwe begin)
is ‘n werklikheid,
want U einde
was ook.
In my #lockdown
op hierdie Opstanding Sondag
speel die ramshoring
oor Pretoria
en die skape blêr
by Victoria-Wes
en die seemeeue
skreeu oor Jeffreysbaai
en ek besef:
I’ve been living below my faith for too long.
Jou temalied vir die week: King of Kings
Comentarios