“Israel, I, the Lord, have loved you.
And yet you ask in what way have I loved you…”
Maleagi 1:2 CEV
Heeltemal uit karakter sien my geestesoog ‘n moedelose frons op ons Here se gesig. Natuurlik is dit bloot my eie projeksie. Maar die woorde se angel brand steeds…
Dit was nog ‘n bibberende dag by die perdespring kamp vandag. Wanneer die wind die reën in horisontale vlae laat neerkom, beny ek geen mens buite nie. Wat nog te sê op ‘n perd se rug!
Oppad terug kry ek spesifieke instruksies van die hogere Engelse dame op my selfoon se padkaart. Volgens haar, is daar ‘n 10 minute vertraging op die M4 – nou net die pad waarlangs ek moes gaan.
Gedetermineerd om niks langer van die huis af te wees as wat nodig is nie, vat ek die eerste die beste afdraai links en wag vir die dame om ‘n nuwe roete uit te werk. Dis mos wat sy doen.
Maar daar ís nie ‘n ander pad nie. Hoe verder ek ry, hoe meer vertel sy my om ‘n u-draai te maak, terug waar ek vandaan gekom het.
Moedeloos en seker dit kan nie reg wees nie, sny ek die beterweterige Engelse stem in my ore uit, en vat die volgende regs. Net om agter ‘n ellelange ry karre vas te val waar ‘n versperring kilometers vorentoe ‘n hewige oponthoud veroorsaak het.
Al manier om myself nou hier uit te kry om was om maar weer my oortjies in te stel op Madam se stem en te glo sy weet die beste.
(En in my binneste weet ek my man gaan nou lekker lag, want hoeveel keer het hy my al gesê: “Just trust the system.”)
Just trust the system.
Soveel keer glo ek ek weet wat die beste vir my is en vra ek die Here vir ‘n bepaalde uitkoms vir my skottels vol gebede.
Maar ek besef vandag net weer dat daar uitkomste is vir my gebede wat ek met my beperkte menslike verstand nie eers aan kan dink nie!
Amper soos toe ons op skool was en as tieners moes kies wat jy met die res van jou lewe wil doen. Die opsies was legio – in ons oë: dokters, prokureurs, dieselwerktuigkundiges, predikante, sekretaresses, joernaliste, onderwysers…
Wat ons nie besef het nie, was dat daar ‘n hele wye wêreld se keuses was waarvan ons net nie bewus was nie! Aanlyn filmredigeerders, klankingenieurs, vulkanoloë, forensiese patoloë, voedselwetenskaplikes, kunsterapeute, video speletjie toetsers, geur chemici, sjokolademakers, en die lys gaan aan en aan en aan en aan.
Dit ding is dat ons nie weet wat ons nie weet nie.
Hoekom sou ek dan dink dat ek die beste antwoord vir my gebed sou hê, as my eie wêreldjie so hulpeloos beknop in sy uitkyk is?
Die Here weet nie net presies wat ons nodig het om binne Sy plan vir ons lewens te bly nie, Hy weet wat die heel béste sal wees – dalk nog veel meer as wat ons kan bid of dink!
Hoe kan ons dan nog vra: “Here, hoe het U ons liefgehad?”
As ons net vir ‘n oomblik stilstaan en eerlik reflekteer op dinge wat nie uitgewerk het nie wat ons gehoop het sal, of dinge wat ‘n heeltemal ander wending geneem het as wat ons gehoop het maar vir ons die grootste vreugde gebring het, sal ons boeke kan skryf oor hoe die Here ons liefgehad het. Steeds het.
Priscilla Shirer sê in een van haar praatjies dat sy deesdae haar gebede eindig met hierdie woorde:
“Please, Lord, could you answer my prayer in this way?
Or better…”
Just trust the system.
Jou inspirasie vir die week: Warrior
Comments