“Our God has said:
‘Encourage my people!
Give them comfort.’ ”
Jesaja 40:1 CEV
Soos wat ek hier skryf, het President Ramaphosa nog nie gepraat nie. Die afwagting is al die pad van SA af tasbaar… Daar is baie goed wat my trots Suid-Afrikaner maak, maar daar is spesifieke goed wat my hart kom roer.
Die onsekerheid van ouers oor kinders terugstuur skooltoe, is een van hulle.
Dit ís ‘n tameletjie – help nie ons probeer dit ontken nie.
Ons wil die regte ding doen, maar wat is die regte ding vir my kind?
Ons wil die regte ding doen, maar weet enige iemand wat dit is?
En juis in daardie oomblik word van ons gevra om te erken dat ons nie al die antwoorde het nie, dat niemand op aarde verantwoordelik gehou kan word om ‘n antwoord te hê vir die vraagstuk wat die Alwetende, Heilige God hier op aarde toegelaat het nie.
Ons bemoediging moet dalk juis begin by: “Jy hoef nie ‘n plan te hê nie. God het een.”
“Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus.
Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het.
Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan.
Sê vir die dorpe in Juda: ‘Kyk, die Here gaan kom!’
Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee Sy beloning.
Hy kom gee ook Sy straf.
Hy sal vir Sy volk sorg soos ’n skaapwagter Sy skape oppas.
Hy dra die lammers in Sy arms.
Hy hou hulle teen Hom vas.
Hy sorg vir elke lammer se ma.”
Jesaja 40:9 Die Boodskap
Een van die kanselkommentators skryf van die óú skape - die ou ooie en die ruwe ramme. Wanneer die ou skape bietjie van die herder af wegdwaal, is die getroue skaaphond daar om hulle met ‘n geniepsige knyp aan die hart, of ‘n meer ernstige hap uit die bloedlyn, uit die sloot waarin hulle beland het te kry.
En die herder laai dan altyd die dwaler op sy skouers. Dit is nie ‘n baie gemaklike posisie nie. Die herder hou skaap se kind aan die pote beet en die koppietjie skommel-skommel so met elke tree. Dis hoe die Here ons ou skape dra wanneer ons dwaal.
Maar die lammers… aaaaahhhh. Die lammers dra Hy teen Sy hart. Skouers is nie hulle plek nie, teenaan die Herder se boesem is. En hulle lê daar, tevrede, met Sy arms oor hulle gevou – daar waar Hy Sy oog liefdelik op hulle kan hou.
In Sy arms, waar hulle Sy groot hart kan hoor klop met liefde, waar Hy die eerste mompelings van hulle vrees kan hoor en hulle die sagste asem van Sy omgee kan voel.
Hy dra die die lammers in Sy arms. Hy sorg veral vir hulle wat dit die nodigste het: jong kinders, jong gelowiges, geknakte gelowiges, die bedroefdes van gees.
Wanneer die vrees vir die onbekende dreig om jou in hierdie tyd te laat snak na jou asem, gee jou lam vir Jesus.
Hy sorg vir hulle.
Hy sorg ook vir elke lammer se ma.
Jou temalied vir die week: My Deliverer
Comments