top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

Keuses #2018: Jy soek vir My en jy gaan My kry




Ek lees vanoggend in Levitikus 25 oor God se Jubeljaar. Sommige vertalings praat van die Hersteljaar. Elke 50 jaar sou die aarde ‘n welverdiende ruskans kry, almal sou hulle oorspronklike besittings terug ontvang en slawe sou dan vry wees om na hulle eie mense terug te keer.

Asof die swartbord skoongevee word. Eintlik ge-SunlightLiquid word. Dan verdwyn die vaal spore van die ou dinge totaal en al en splinternuwe kryte kom uit die boksies te voorskyn.


Maar enige onnie sal jou vertel – as die borsels nie ook goed skoongemaak word nie, is die pikswart skryfbord vinnig-vinnig sommer weer vaalwit.


Eers laat in 2017 het ek besef: Ek kan kíés om hierdie jaar my Jubeljaar te leef.

Maar my borsels kort ‘n behoorlike skoonmaak. Daagliks. Want elke dag het maar sy eie stowwerigheid wat dreig om die kant wat ek vir die wêreld wys, te bevuil.


Maar daardie Eenjaar Bybellees-planne laat my keel toetrek! As selferkende obsessiewe-kompulsiewe-perfeksionis, sal ek mos klaaglik faal daarmee. Weet jy hoe baie ‘n mens moet lees om die Bybel in een jaar deur te lees??


“Wie se idee was dit nou eintlik?”, wonder ek toe. Wie het besluit 365 dae is die perfekte getal dae om die Bybel te lees voor die Here ons weer kom haal? Want hoekom anders dan ‘n beperking daaraan koppel? Hoekom anders elke oorpresteerder op hol jaag met nog ‘n status om te bereik?


Ons weet nie wanneer Hy weer op die wolke gaan kom nie, so eintlik moet ons nou dadelik begin en lees en lees en kláár lees voor daardie trompetgeskal begin.

As dit dan nou die bedoeling was.


Tot ek besef: In my Jubeljaar, maak die wêreld nie die reëls nie. My God maak dit. En Sy reël is eenvoudig: Nader tot My en Ek sal tot jou nader. (Jakobus 4:8)

Rus. Laat jou beursie rus. Laat die wêreld rondom jou (met) rus.

Gee terug wat nie joune is nie.

Spreek vry. (Levitikus 25)


Mag #2018 JOU Jubeljaar wees!


bottom of page