top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Knock-knock


Ek sit op die rand van ons bed nou-die-oggend, en my oog vang ‘n beweging agter die glasdeur wat op die tuin uitloop. En hierdie vers kom steek by my vas.


“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.

As iemand my stem hoor en die deur oopmaak,

sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou,

en hy saam met My.”

Openbaring 3:20


KYK.

Let op. Wees bewus van. Wees voorbereid. Kyk op van die wêreld en sien My raak.


Ek kon beweging sien, want dit was slegs ‘n glasdeur. Ons kon seker vir ‘n houtdeur gegaan het, maar ons hou van die lig wat in ons mees private kamer inkom.


Soos ‘n selmembraan miskien? ‘n Selmembraan is sterk genoeg om dit wat binne moet bly binne te hou, en terselfdertyd so deurlaatbaar dat dit wat binne móét gaan, binne kán gaan.

HOOR MY.

Haal uit die oorfone. Luister vir my klop. Draai vir ‘n oomblik jou ore na binne en hoor My.


Soos deur ‘n newel kom my naam na my toe aangesweef as iemand my aandag probeer trek wanneer die wêreld my ore besig hou. As ek nie die klop verwag nie, sal dit dalk by my verbygaan.


Ons het gelukkig honde wat ‘n ordentlike keel opsit elke keer as die deurklokkie lui! Soms het ek iemand in my lewe nodig wat opgewonde rondom my sal kom dans en my aanmoedig om die deur van my hart oop te maak.


MAAK OOP.

Staan op. Doen iets! Nooi My in.


In die omgekeerde rolle staan my Here en wag. “Klop en vir jou sal oopgemaak word” is nou op sy kop gedop.


Dis nie ‘n dringende, opdringerige balju-klop aan jou deur om te kom vat en verkoop nie.

Maar die geduldige klop van die Een wat my liefhet en verlang daarna om saam met my te wees.


EK SAL INGAAN.

Ek sal jou nie leeg en verwese laat staan as jy reg is om my te ontvang nie.


Nes ek maar is, wil ek dalk nie hê die Kuiergas moet die vuil skottelgoed op die kombuiseiland sien, of die skoene wat die wêreld vol lê, of die boekrak wat weke laas afgestof is nie.


Maar nes die beste vriend of vriendin óóit, sê Hy: “Vat net genoeg gemors voor die deur weg sodat Ek kan inkom. Dan help Ek jou gou wegpak en weggooi en afstof.”


Maar dit is net ek wat daardie paadjie deur toe kan oopmaak, dit is net ek wat die sleutel kan draai.


ONS SAL ‘N FEESMAAL HOU.

Dit wat jy tot nou toe ervaar het, is maar die alledaagse rys-vleis-en-aartappels. Maar as Ek inkom, dan haal ons die ‘fine China’ uit.


“I will make him to share in my most intimate and blissful contact.”

Thayers’ Greek Lexicon


Daar mag dae, weke en jare se tot-laataand-kuiers een na die ander op mekaar volg. Maar op ‘n dag kom ek uit die kamer en ek sien weer die leë koppies oral rondstaan en die vuil spore op die wit teëls en ek wil hê die Kuiergas moet net eers bietjie ‘n draai gaan loop dat ek gou weer kan skoonmaak en opruim.


Maar Hy is nie daar net vir die perfek gestileerde huis nie.

Hy is daar vir my.


As ek Hom vra om te help, sal Hy.


“God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ “

Hebreërs 13:5


Maar laat kom My net eers in.





Jou temalied vir die week: Fall Afresh

Comentários


bottom of page