Sy is ‘n Amerikaanse meisie, maar Alecia Beth Moor – Pink, soos ons haar ken – se musiek is legendaries hier op die Eiland. Soveel so dat ‘n mens heelwat vinniger uitgekuier raak daaraan as terug in Afrika.
Want radiostasies van Southampton tot in Skotland, van sonop tot sononder, speel dit dit oor, en oor, en oor.
En oor.
Nie te lank terug nie, word ‘n nuwe liedjie van haar vrygestel en dit begin. Op hierdie stadium soek ek darem nog nie die verwoed die AAN/AF-knoppie waneer die eerste note weerklink nie, en ek dink dit is omdat hierdie een sinnetjie by my vasgehaak het:
“I’m never gonna NOT dance again.”
Veel meer van die liedjie weet ek nie regtig nie, maar ek wil so graag hierdie ses woorde weggee…
vir die vrou wat so onbepland alleen haar babatjie se eerste skreetjies moes hoor die week,
vir die een wat nie kan verstaan hoe alles wat so reg geloop het, skielik so verkeerd kon uitdraai nie,
vir die verwoeste ouers langs vier kindergraffies van seuntjies wat net wou seuntjies wees op ‘n half-gevriesde dam.
Maar ek lees Psalm 137:2 en ek dink ek verstaan:
“On the willow trees in the midst of Babylon
we hung our harps…”
AMP
Soos hulle daar op die bank van die rivier in Babel sit, het die Volk maar te goed besef dat hulle nie meer in hulle eie land was nie, en hulle huil.
Hulle huil oor so baie wat dood is.
Hulle huil oor alles wat hulle verloor het.
Hulle huil oor Jerusalem wat in stukke lê, Jerusalem, en haar Tempel.
Hulle huil oor die wreedheid van hulle ontvoerders.
Hulle huil oor al die seeninge van die verlede wat nou net ‘n gedagte is.
Hulle huil oor die gevangenskap waarin hulle hulself nou bevind.
Hulle huil oor die donker toekoms wat op hulle wag.
Hulle huil oor hulle eie aandeel in hierdie penarie.
En dan besluit hulle om die harpe maar eerder in die wilgers op te hang.
Daar is niks meer om oor te sing nie.
Rapper en danser en TV-aanbieder, Twitch, is hierdie week ook oorlede.
Hy kon niks meer sien om oor te sing of te dans nie,
en hy trek die sneller.
Ek wil hê jy moet weet dat jy nie alleen is nie.
Ek wil hê jy moet weet dat ander al van die Bybelse tyd af geweet het hoe jy voel.
Ek wil hê jy moet weet dat daar ‘n einde gekom het aan hulle ballingskap en daar sal ‘n einde kom aan jou seer ook.
Of jy nou ‘n aandeel daarin het of nie.
Hy is nie ‘n venynige, haatdraende God vir Sy kinders nie.
Net een geslag later lees ons:
“The Lord your God
wins victory after victory
and is always with you.
He celebrates and sings
because of you,
and He will refresh your life
with His love.”
Zephaniah 3:17 CEV
As Hy dink daar is iets in jou lewe om oor te sing, vra Hom om jou te wys.
As Hy dink dis tyd om die harpe uit die takke te gaan haal, vra Hom om jou voet te gee.
Moenie toelaat dat die seer van gister of die onmoontlikheid van môre jou ontneem van vandag se two-step nie.
Hy nooi jou om te dans.
Jou inspirasie vir die week: Reside
Comments