top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Kom hier


Toe Katie kleiner, jonger en veel meer beweeglik was, moes ons maniere vind om haar besig te hou. Sonder dat ek en pappa 20km ‘n dag hoef te draf!


Swing ball was een so ‘n antwoord.


Ek kon net een keer daardie tennisballetjie moker, dan lê Katie soos ‘n wafferse Valentino Rossi op haar linkersy al in die draaie om by daardie groen gedoente uit te kom.


Soms is dit net ‘n Katie-tand wat die bal aan die einde van die lang tou beetkry, dan ry daai groen hoppertjie ‘n paar vreemde golwe met Katie agterna, voordat my dik plastiekraket hom vind en dan gaat hulle weer.


Maar soms mis sy die bal heeltemal en dan gaan draai die tou vas rondom die paal en al bewegings wat daai groen balletjie dan uitvoer, is ‘n baie beperkte kyk-links en kyk -regs van die paal.


Sommer nog in die onlangse verlede was ek moeg vir tennisbal wees aan die einde van ‘n lang tou van onvoorspelbare oppe en affe. Die lewe se dinge het my gereeld van hoë hoogtes tot die laagste laagtes rondgelei.


Ek was moeg daarvoor.

En ek het die Here gesê.


Sy antwoord?

Kom hier.


Want hoe nader ek aan die swing ball paal kom,

hoe korter is die tou waarmee ek oor die afgrond laat sak kan word,

hoe korter is die tou wat my laat voel ek kry nie asem nie,

hoe korter is die tou wat my hiernatoe en daarnatoe kan rondpluk.


Hoe nader ek aan die die swing ball paal kom,

hoe makliker is dit om weg te kruip van die dinge wat my jaag,

hoe makliker is dit om veilig gebêre te word,

hoe makliker is dit om te rus.


Vandag vind ek soveel rus in die ou dinge.

Daardie goed wat vir ‘n tyd vreeslik old fashioned en out of date was:


Gereeld kerk toe gaan.

Elke dag met die Here gesels.

My foute en vrese oop voor hom gaan neersit, elke dag.


Kom hier.

Kom draai jouself vas om My.


“Maar wat my betref,

die nabyheid van God is vir my goed.

Ek het my Heer, die Here,

my skuilplek gemaak,

sodat ek van al U werk kan vertel.”

Psalm 73:28 2020-Vertaling




Jou inspirasie vir die week: Who I am




By Ian Hughes - Swingball weather, CC BY 2.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=103366311


Comments


bottom of page