Woensdag is die week net mooi halfpad toe ek weer my voet vierkantig in my mond druk. Net wanneer ek dink ek het al my eendjies mooi in ‘n ry…
Ek klankbord vooraf nogal so ewe met manlief en, diplomaties soos altyd, probeer hy my waarsku daarteen. Halstarrig, bietjie teleurgesteld dat hy nie die vernuf van my plan insien nie, en so ‘n klein bietjie te lui om die skip te draai wat ek met soveel moeite aanmekaar gesit het, druk ek deur.
En land op die rotse.
Die skade is deur God’s genade nie te erg nie, maar die selfverwyt kom in golwe ingerol.
Want was my motief regtig so suiwer as wat ek gedink het?
Hoekom het ek nie geluister as ek dan vis vir raad nie?
Maar slim is toe nie altyd so slim nie, het Ouboet altyd gesê…
Volgende oggend vroeg is ek in die kombuis besig om die strykplank oop te slaan. Kaapse Kansel speel op my foon se live stream en ek val so midde-in ‘n gesprek tussen Bertha (7de Laan) en ‘n man en vrou wat vertel van hulle werk as beraders.
En asof die Here juis daardie oggend vir my ‘n spesiale boodskap wou kom aflewer, kom steek hierdie in my oor vas:
‘n Christen wat skielik deur vrees oorval word… is ‘n Christen wat vrees.
‘n Cristen wat van oral deur die aanslae van die lewe geklap word, ervaar dalk hoedat ‘n vlaag van onsekerheid op hom toesak… en word ‘n Christen wat twyfel.
Jy is nie minder Christen omdat jy menslike emosies ervaar nie.
‘n Christen wat verkeerde keuses maak, is ‘n Christen wat foute maak.
“The liar is not only the man who speaks with the intention to deceive;
he is the man who has preferred to deceive himself
rather than face the truth.”
Soms is die moeilikste waarheid om te hoor, die een oor onsself. Maar dit is júís waarin Christus se genade so duidelik is!
Oor en oor sou Esegiël die boodskap van verwoesting bring. Ek trek nou eers by hoofstuk 23 en ek moet erken: Dit raak vir my bietjie erg.
Hoofstuk op hoofstuk, waarskuwing na waarskuwing. Al wat ek kan dink is dat die mense nie wou hóór nie.
En nog ‘n hoofstuk word geskryf.
En die mense hoor nie.
En nog ‘n hoofstuk…
Dáárom die Here se volharding in waarskuwing in geen onsekere terme nie en met net een einddoel voor oë:
“It’s kindness on God’s part to show us our sins,
for His hope is that we may loathe them
and abandon them.”
Dit beteken nie ek is jammer nie.
Dit beteken ek is kláár.
Die Boodskap se beskrywing van 1 Johannes 1 se belofte is vir my so mooi:
“Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie? vra jy dalk.
Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was –
daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan.
Ja-nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie.
As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet.
Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie.
Glo dit maar, want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is.”
…nooit weer dieselfde foute wíl maak nie. Die intensie is daar!
So, vandag staan hier ‘n Christen wat foute maak, wat nooit weer dieselfde fout wíl maak nie, maar wat hier en nou vergewe staan.
Dit gee my hoop! Dit gee my verwagting! Dit gee my krag vir môre…
Jou temalied vir die week: Hold on to me
Comments