Hulle sê dat wanneer jy eers kinders het, jy gewoond moet raak daaraan dat jou hart buite jou lyf rondloop. As jou kinders vier bene en swart-en-wit hare het, is hierdie gesegde nie minder waar nie.
Nes ‘n oorbeskermende helikopter-mamma ‘hover’ ek al heeldag om my oudste. Dit is nou al ‘n rukkie dat ek weet Die Dag kom nader – sy is darem al amper 15 jaar oud en volgens Wikipedia:
The natural life span of the Border Collie is between 10 and 14 years, with an average lifespan of 12 years. The median longevities of breeds of similar size are usually 12 to 13 years.
Vandat ek begin agterkom het dat die Groot Veld vir haar wink, is elke dag net ‘n bietjie meer spesiaal, is elke opoffering minder van ‘n ongemaklikheid en meer van ‘n onthou-oomblik. Tot haar pa se hart het sawwerig geraak en Ousus slaap nou baie meer gereeld teen my linkerkuit.
Dit laat my ook deesdae meer aan my ma dink. Hoeveel keer het ek nie al gewens ek het eerder die foon en die iPad neergesit en net met haar gesels daardie laaste ruk langs die hospitaalbed nie… Dat ek eerder daardie dag se naelafspraak gekanselleer het om saam met haar ver paaie in haar gedagtes te gaan stap, al langs Kitely straat, Brandfort, en die melktrein en Rondalia.
Maar ek het gedink ek het tyd. Tot ek nie meer tyd gehad het nie.
Wat moet gebeur vir jou om te besef dat elke oomblik die laaste keer mag wees?
Die laaste keer dat jy in die tou moet gaan staan om jou ma se pensioengeld te gaan trek.
Die laaste keer dat jy by die werk moet afvra om jou pa dokter toe te vat.
Die laaste keer dat jy ‘n hele berg speelgoed die huis vol moet optel.
Die laaste keer dat sy sal vra of jou huiswerk gedoen is.
Die laaste keer dat hulle vra om op jou skoot te sit terwyl die spertyd op jou verslag uitloop.
Die laaste keer dat jy sy klere van bo-op die mandjie tot binne-in die mandjie moet verskuif.
Die laaste keer dat jy jou vererg omdat sy haar foon op ‘silent’ vergeet het.
Eers as jy dit besef, kry selfs die mees middelmatige en vervelige en soms irriterende alledaagshede nuwe betekenis.
Jesus praat in Mattheus 25 met die skares en Hy sê:
“’Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp.
Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’”
Dit pynig my om te sê, maar soms lyk ons naaste dierbaarstes vir ons onbelangrik.
Ons hou ons goeie (groot) dade vir ander.
Daar waar ons meer ‘sukses’ sal behaal.
“If we realise that God’s Spirit is the guarantee
for the success of work done for God,
we shall escape the vulgar error of
measuring the importance of things by their size.”
Of dalk is jou naaste dierbaarstes se seer net té seer om van naby te beskou. Dalk voel jy net heeltemal ongekwalifiseerd om daardie vlak van pyn te hanteer. Vir jou skryf Katie Davis:
“…even though I realise I cannot always mend or meet,
I can ENTER IN.
I can enter in to someone’s pain and sit with them
and know.
This is Jesus.
Not that He apologises for the hard and the hurt,
but that He enters in,
He comes with us to the hard places.
And so I continue to enter.”
Dit het my langhaar, viervoet-kind se laaste dae gevat om my die waarde van skynbaar onbelangrike dinge te leer.
Maak daai oproep.
Ry daardie ekstra draai.
Bou daai komberstent.
Sit by haar.
Wie weet of dit die laaste keer sal wees.
Jou temalied vir die week: Let me be filled/Help me to love
Comments