top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Liefde se tyd loop uit


’n Winkel is ’n magneet, ek kom baie kort. Hy laat my met ’n oop mond die specials begeer, hy dompel my in skuld, sonder om my dors te les, hy mislei my.

Hy lei my deur die winkel se gange om special vir special op te raap.

Selfs al laai ek my trollie tot oorlopens toe vol, sal ek nie genoeg kry nie, want daar is nog een special wat ek begeer.

Jy laat my skuld maak om hier te wees, terwyl ek weerloos is. Jy ontvang my met kamstige vriendelikheid. My oortrokke bankrekening en skuldgevoel sal vir maande by my bly en in jou hande sal ek klei bly tot in lengte van dae.

- Marnus Kok

Met apologie aan Psalm 23


Met my man se ervaring en leiding en positiewe insette in my eie lewe, het ons ‘n paar jaar gelede die juk van los-skuld (hier praat ek nou nie van verbande en motorlenings nie) van ons afgeskud. As ek nou by ‘n kettingwinkel betaal en hulle vra of ek nie ‘n dalk ‘n rekening wil oopmaak nie, onthou ek daardie dag wat ons al ons kaarte opgeknip het in fyn detail. En die las waarvan dit ons vrygemaak het.


Dus, toe Swart Vrydag kom en gaan terwyl ek in afgryse kyk hoe mense winkeldeure afbreek in hulle haas om by dooie winkelrak-ietse uit te kom, weet ek: ek durf nie oordeel nie.


Ek het maar nog steeds my eie magnete, die unieke ietse wat my weerloosheid uitbuit en my in die skuld dompel by diegene vir wie ek éérder my tyd en my aandag moet gee. En my liefde.


Ons almal ken ‘n vorm van Romeine 13:8


“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.”


Maar die Nuwe Lewende Vertaling gaan grou so bietjie dieper in die eintlike betekenis hieragter en dit word dan


“Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly,

is om mekaar lief te hê.”


Die Jode het gedink dat hulle onmoontlik aan al die keiser se eise kon voldoen. Dat dit net te veel geraak het. Buitendien, Jesus het gesê Hy kom gou weer terug, so hoekom dan al hierdie aardse wette en reëls gehoorsaam, belastings betaal?


Kan jy jou nou voorstel: Jy betaal vir maande aan daai Edgars-skuld, maar nes jy jy dink dis van jou rug af, kom daar nóg ‘n rekening in die pos! Ek ken mense wat dit tot in die hoogste hof sal beveg!


Maar dis juis wat hierdie gedeelte van ons vra.


Wanneer ek dink ek het my deel gedoen, lief gehad soos wat ek moet en my kant gebring, word ek herinner dat dit die een lewenstaak is wat nóóit afgehandel sal wees nie.

Dit maak nie saak of die skuldeiser onredelik is of skelm is of ‘n leuenaar is nie. Dit mag dalk die grootste rugsteker in die geskiedenis van rugstekers wees – as die rekening kom om hom/haar lief te hê, vra die Here dat ek sal betaal.


Wanneer ek myself uit die bokskryt kan uitsleep, bebloed en moeg, en op die toue klim en die oorwinnaarstrofeeop die verste tafel sien staan, dan lui vers 11 in my ore:


“Julle moet hierdie dinge doen omdat julle besef dat die tyd besig is om uit te loop.”


En in die groter prentjie is dit soms soveel eenvoudiger om net lief te hê. Hoekom maak ek dit dan vir myself so gekompliseerd? Hoekom wil ek hardnekkig bly vasklou aan ou wonde en ou gekrenkte emosies, as die opsie om net te laat gaan en lief te hê op ‘n skinkbord vir my aangebied word?


Miskien omdat ekself nog te veel in die spieël kyk om die ander vegters se blou houe raak te sien.


Jou temalied vir die week: Love Like This


Comentários


bottom of page