Dit vat soms net een sinnetjie om ‘n mens se wêreld te laat kantel.
HIerdie week was dit my beurt. Met my voete stewig geplant op hierdie nuwe pad wat ons besig is om oop te kap en te verken, opgewonde oor al die moontlikhede wat wag en gefokus op dit waarheen ons oppad is, het ek steeds toegelaat dat sewe woorde my in twyfel dompel.
En die lig skyn binnetoe.
Hoeveel keer het ek dalk met een sin aan jóú standvastigheid kom ruk en pluk? Die saad van twyfel op jou honger hart gesaai?
“To be safe in the use of the tongue
we need to be much in the company of Christ,
often in converse with heaven.”
Wanneer ek begin agterkom my woorde kom soos spiese by my mond uit, eerder as lewende water, dan weet ek waar om die oorsaak te loop soek. Maar ek besef dit nie altyd in die oomblik nie. Soms moet Sy vuurtong weer-en-weer om my kop kom draai voor ek agterkom dat ek ‘n taal praat wat mense nie verstaan nie.
“The anchor may be sound,
but the chain that unites it to the ship
may rust away.”
Sodra ek myself weer in Sy liefde se teenwoordigheid bevind, kan ek beter sien watter gebrek aan liefde in my dag was. Maar ek moet tyd maak om alleen te wees, stil te wees, weg te breek van my eie binne-stem. Toe te laat dat Sy vrede my oorspoel en my hele binneste volmaak met dit wat hierdie wêreld nie kan bied nie.
Sjoe, dis moeilik….
Dis soveel makliker om te praat van goed wat ek gehoor het, as om self tyd en moeite te maak om te gaan luister.
So – soms moet die Here ‘n storm stuur en my dwing om die shutters op te slaan en die TV en yskaste uit te plug en my selfoon af te sit om die battery te spaar. Want dan…
‘From out of a storm,
the Lord said to Job:
Why do you talk so much
when you know so little?”
Job 38:1 CEV
Terwyl ek die hele tyd praat, kan ek onmoontlik nie alles hoor wat Hy vir my wil sê nie.
Toe ek vanoggend Lysa Terkeurst se woorde lees: “When is the last time I just sat quietly with a pen and paper and asked the Lord to help me think?”, moes ek erken dat dit dalk is hoekom my antwoorde soms so hol klink. Want ek vra die Here te min om my te help om goed te oordink.
En daar is so baie om oor te dink:
Ons uitdaging hier rondom BTW-registrasie…
Jou geloofskrisis binne in ‘n finansiële droogte…
Jou magteloosheid oor die pyn van jou geliefde…
Jou worsteling met werk issues…
My bekommernis oor die wat ver is…
Wanneer ek die Here kans gee om my te help dink oor al hierdie menslike tameletjies, my eie en die wat oor my gebedskussing kom lê, dan kom gee Hy vir my Goddelike insig en antwoorde. Dit is nie ‘n moeilike begrip nie, maar tog een wat ek so gereeld van voor af moet bemeester.
En dan kan ek maar net agter onse Job aanpraat:
“Ek weet dat U alles kan doen. Daar is niemand wat U planne kan laat skeefloop as U eers ’n besluit geneem het nie. U het gevra: ‘Wie is dit wat my besluite in twyfel trek, maar self niks kennis het nie?’
Dit is ek. Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie.
Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan.
“U het gesê: ‘Luister net ’n slag as Ek praat. Ek het vrae vir jou wat Ek wil hê jy moet antwoord.’
“Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien.
Ek trek alles terug wat ek gesê het. Om te wys dat ek baie spyt is oor wat ek gesê het,
gooi ek grond en as op my kop.”
Job 42:1 Die Boodskap
#Notetoself: Maak tyd om te luister.
Jou temalied vir die week: Give thanks for a broken heart
Comments