Gewoonlik dra ek hierdie goed na aan my hart. Die geweld, onregverdige bedeling en die plaasaanvalle. Meeste van die tyd dra ek dit na aan my hart en ver van my mond af, behalwe wanneer ek afpak by my man. Want sê nou ek begin praat en ek kan nie weer ophou nie?
Ek is geroep as Hoopgewer. Hoe sal dit lyk as ek huil en skree en verward vra: “Hoekom?”
Maar vanoggend kom klim die soveelste plaasaanval, hierdie keer by Rouxville in die Suid-Oos Vrystaat, saam met my in die stort en die wrewel kom borrel in my op soos ‘n lawaberg wat te lank stil was.
“Niemand weet dan nie, Here. Hier in die UK weet níémand van dit nie. “
Toe ek vanoggend op Wikipedia gaan lees oor Farm Attacks in South Africa wil ek naar word: “Unsubstantiated claims that such attacks on farmers disproportionately target whites are a key element of the white genocide conspiracy theory and have become a common talking point among white nationalists worldwide.”
Niemand weet nie, Here.
“Maar Ék weet.”
Maar die derde keer in my lewe dat ek Hy so met my praat.
En my hart word stil.
Om verder aan my vrede te hekel, gesels oom Charles Stanley vanoggend oor die Here se juk.
‘n Juk is gemaak om twee osse saam te laat trek. Dit het hulle aan mekaar verbind.
Sou die een swak raak, sou die ander een die las dra.
Wanneer hulle met ‘n harde klippad langs moes stap, het hulle dit saam gedoen.
Wanneer hulle die kans kon kry om langs die trekpad lekker ruig Smutsvinger of Bloubuffelgras te kry, dan het hulle saam in die vreugde gedeel ook.
Die juk het hulle bymekaar gehou.
“As julle My juk op julself neem, sal julle nooit weer julle laste alleen hoef te dra nie.”
Dis maklik om dissipels te maak as jy mense kan opsweep met bewyse van ongeregtigheid en menseregte vergrype.
Maar dit was nie deel van die Groot Opdrag nie.
“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: ‘Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?’
En Hy antwoord hulle: ‘Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader
deur Sy eie mag bepaal het nie;
maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,
en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría
en tot aan die uiterste van die aarde.’ ”
Handelinge 1:8 1933-vertaling
Julle sal My getuies wees. Julle sal van My getuig. Julle sal van My voorsienigheid getuig, van My redding vir die wat glo.
Nêrens word die dissipels gevra om te gaan getuig oor die geweldige vervolging van ‘n klein groepie mense aan die hand van ‘n bose mag nie.
Nêrens word hulle gevra om die ongeregtigheid in hulle paar duisend vierkante kilometer stop te sit met gewelddadige betogings en aanvalle en om op die wêreld se seepkissies hulle lot te bekla nie.
Nee – gaan vertel van My, sê Hy.
En Ek sal al jou ander laste dra.
Jou temalied vir die week: The story I’ll tell
Comments