top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

My beurt om te onthaal


Vanoggend kuier ons in Elandsrivier Vallei se kerkie en ons sing:


U liefde is so suiwer soos die oggendson se rooi

So sagkens soos die fluister wat die swerwer nader nooi

Dit breek deur al die bitter en elke koue muur

Dit strek verby die foute en bring die hemel hier


U liefde deur die eeue bly ver verdaaaldes roep

Dit kom soos golwe weer-en-weer - genade wat bly soek

Dit gee weer tweede kanse en haal die sonde in

Dit help die swakkeling om weer van voor af te begin


Daar is niks sterker as U liefde

Daar is niks groter as U trou

Daar is niks wat my van U kan skei

Liefde glo alles, hoop alles steeds

U liefde bly

Retief Burger


Ek sien die tafel wyd uitgestrek en ek word genooi. Daar is ‘n pleknaam spesiaal vir my.

Vandag kom ek met al my bagasie aan my vasgeknoop. Stofrooi oor die heuwels saamgesleep kom pak ek dit daar uit: Flenters toegedraai in verbande, droë brood en ou sakke wat die wyn laat lek.


My hande is vuil – daar waar ek was is nou ook by híérdie tafel wanneer ek aansit en inskuif.

Maar Sy oë dwaal nie een keer ongemaklik weg nie.

Hy kyk na my en ek kan sweer Hy sien nie die omgestampte kristal en die skeefgetrekte spierwitte tafeldoek waar my pakkies holderstebolder lê nie.


My hande probeer lomp die rooigrond vingermerke afstof om net nog ‘n groter gemors te laat.

Ek kan die trane nie keer nie. Nou loop die stofstrepe inmekaar waar die druppels val terwyl ek struggle om ‘n mate van waardigheid te behou.


Ek kyk op.

En Die Liefde… bly.

En ek… bly.


Met een halfmaangebaar vee Sy bloedbevlekte hand die stofstrepe af en herstel die tafel in ere. Asof ek nooit my merk daar gelaat het nie.


Ek knip vir ‘n oomblik my oë en die tafel is opnuut elegant gedek. Daar is ‘n pleknaam spesiaal vir my.

Vandag kom ek met niks. Geen stinkvuil bagasie, geen aarde op my te bespeur.

Inteendeel. My niks is vandag groter as my is.

Geen hoop. Geen troos. Geen geld. Geen goed.


Ek het niks om te bied as honger oë na my kyk nie, geen woorde om seerkry weg te neem nie.

Selfs my trane het opgedroog.


Maar Hy kyk na my en sien… iets.

Hóé, weet ek nie, want hoe leeg is leëer as leeg?


Ek mik om skaam my kop te laat sak, maar iets dring my: Kyk op.

En Die Liefde… bly.

En ek… bly.


Ek wil wegdraai wanneer Hy mik om aan my te raak, skaam vir my niksgeit… maar te laat.

Wanneer Hy Sy hand weer oopmaak, lê die gawes van liefde en deernis en vertroue en geloof en hoop uitgepak daarin.

Dit was nooit weg nie.


“Die Here is Gees. Hy is ’n lewende werklikheid,

en nie maar net Iemand wie se Naam in ’n wetboek geskryf staan nie.

Oral waar die Gees van die Here aan die werk is, word mense regtig vrygemaak.

Almal wat glo, is nou vry.

Ons kan die Here se heerlikheid weerkaats sonder dat daar sluiers oor ons gesigte hang.

Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien,

hoe meer word ons lewe verander om Sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats.

Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is,

wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê.”

2 Kor 3:17


Die Gees is aan die werk, my plek bly my plek.

Die Liefde… bly.

Ek is vry.


Dit is nou mý beurt om te onthaal.


Jou temalied vir die week: U liefde bly

Comments


bottom of page