“You pray differently for your food
than you pray when there is no food.”
Here, U sê ons kry nie, want ons bid nie.
En as ons bid, kry ons steeds nie, want ons glo nie.
So eintlik weet ek nie regtig nie, Here: Is dit my bid wat op is, of my glo?
Ek lees hierdie op Facebook:
“English people need to understand that sometimes
an Afrikaner’s English is just finished. Klaar.”
Here, soms is my bid net klaar.
Op.
Maar dis nie vir U nuut nie.
In Esra 1 lees ek dat U U belofte gehou het en die Israeliete die kans gegee het om weer uit ballingskap terug te gaan Jerusalem toe. En toe hulle daar aankom, het hulle begin om U tempel weer te herbou.
Dit het nie sonder teenstand gebeur nie, en meer as een keer lees ek hoe die werk stopgesit is. Onder andere het goewerneur Tattenai van die Wes-Eufraat, geweier om te glo dat die vorige koning Kores die Judeërs toestemming en selfs guns gegee het om weer die tempel te herbou. Hy loop dra storietjies aan by koning Darius in ‘n poging om vir eens en vir altyd hierdie gebouery aan die tempel stop te sit.
Ek het bietjie vorentoe gaan lees, gehoop ek sien hoedat die Volk in dringende gebed tot U nader elke keer as hulle verhoed is om te bou. Aan U tempel te bou. Ook nou, toe Tattenai hulle in onguns by koning Darius wou bring.
Maar ek kon dit nêrens kry nie.
En ek wonder: Het hulle bid ook op geraak?
Jare lank in ballingskap het hulle in dringende gebed na U gegaan. Sommige van die wat gebid het dat die skaapvelletjies sulke permanente holtetjies het, sou nooit eers weer die koel water van die Eufraat proe nie. Maar bid, het hulle gebid. [Boney M se weergawe van Psalm 137 weerklink in my gedagtes.]
Ek hoor die dringendheid en ek sien die pyn op hulle gesigte wanneer hulle tot U nader, Here. Weer en weer. 70 jaar lank.
Maar in die verhaal van Esra, is daar ‘n leë plek.
Daar is geen dringende gebed tot U nie.
“Hulle het die Judeërs gedwing om op te hou met die werk.
Die werk het toe tot stilstand gekom.
Dit het net so bly lê tot in die tweede jaar wat Darius koning was.”
Esra 4:23 Die Boodskap
Maar U, Here, vergeet nooit.
Die hulpelose krete van U kinders gaan nooit ongehoord by U verby nie.
Selfs as hulle gebed ‘n tyd lank stil raak, onthou U die soet klank daarvan.
En as U besluit om mense te seën, wie sal U kan keer?
“Darius het teruggeskryf:
Tattenai, goewerneur van Wes-Eufraat… julle moet daardie mense met rus laat.
Moenie hulle gaan pla en gaan inmeng met die bouery aan die huis van God nie…
Ek maak ook nou ’n nuwe wet. Julle moet die Judese leiers help om die tempel vir hulle God te bou.
Julle moet uit die belasting wat in Wes-Eufraat betaal word, vir hulle geld gee sodat hulle met die werk kan aangaan en dit kan klaarmaak. Julle moet elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het om vir die God van die hemel te offer. Daar moenie te min bulle, ramme en lammers, koring, sout, wyn of olie wees nie. Hulle moet vir die God van die hemel alles kan offer wat Hy wil hê.”
Esra 6:6 Die Boodskap
“Die tempel is voltooi op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar van die regering van koning Darius. Die Israeliete, die priesters, die Leviete en die ander wat uit die ballingskap teruggekom het,
het die inwyding van die tempel met vreugde gevier.”
Esra 6:16
My bid raak dalk op, Here. Maar U maak my gebreekte halleluja’s weer heel.
Amen
Jou temalied vir die week: Hallelujah here below
Bình luận