top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search

My Laslappie-eed


Ons is maar almal aanmekaargewerkte lappieskomberse. ‘n Bietjie blomme hier, ‘n bietjie strepe daar. ‘n Patroon begin vorm en wanneer jy later ‘n ent wegstaan sien jy eers die mooigeit daarvan, kan die kunstenaar se ontwerp eers werklik waardeer word.


Niemand op aarde kan te koop loop daarmee dat hulle die produk is van één se liefde nie. Ook maar goed so, want soms torring een lappie se vashougaring bietjie los. Soms is dit ‘n rukkie dat jy met hierdie torringstert rondloop en jy jouself kort-kort moet keer om dit nie heeltemal af te knip nie. Maar dan, uit die bloute, vang ‘n ander lappie daai draad en werk dit sommer so saam met sy eie steke in. En jy is weer heel.


Ons sien dit nie altyd raak nie. Soms is dit eers wanneer ‘n lappie onwetend losgetorring het en jy skielik die wind teen jou lyf voel, dat jy agterkom hoe jy dit mis. Totdat jy eendag onverwags die perfekte nuwe lappie op die mees onwaarskynlikste plek raakloop, dalk sommer tussen jou eie bêrelappies, en weet: díé een sal pas.


Die Here se trommel vol lappies het eers begin met een, Adam, en toe met twee, Eva, en toe sommer ‘n hele wêreld vol! Hierdie lappies sou Hy gebruik om die mensdom toe te maak in Sy liefde en hulle bestaan interessant en vol avonture te maak. Een lappie op sy eie is maar net nie dieselfde nie.


Partykeer voel ek gekrenk as ek agterkom dat ek toe al die tyd net daar was om iemand se leë plekkie toe te maak, terwyl hulle nog aan die patroon werskaf. Soms voel ek te na gekom as ek dan losgetorring word om vir ‘n ander een plek te maak.


Ek weet nie hoekom dit my ontstel nie. Die Groot Ontwerper het belowe dat Hy vir ons elkeen ‘n spesiale plek in gedagte het. Ons is laslappies, almal van ons. Gemaak om perfek te pas in ‘n welbeplande patroon wat ons eendag deur ‘n helder oog sal kan sien.


“One of the great secrets of the Christian life is to view yourself as participating in that plan.

Do not think of yourself as little people with little, little problems …

…Think of yourself being in this mighty plan, being chosen by God before the foundation of the world, with God determining to bring you to glory."

Michael Eaton


“Ability creates responsibility,”hoor ek vandag.


In soverre dit vir my moontlik is, laat ek vir jou die lewe makliker maak.

In soverre dit vir my moontlik is, laat ek sien waar ek vir jou gaatjies kan toemaak.

In soverre die Here dit vir my moontlik maak, laat ek Sy gesig vir jou wys.

Dit is my laslappie-eed.


“As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het;

as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee,

wil ek julle ’n groot guns vra.

Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam.

As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak. Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink.”

Filippense 2:1 Die Boodskap


Dit is nie ‘n afskeepwerkie nie. Dit is ‘n kritiese deel van God se patroon vir hierdie wêreld.

Hy stuur mense wat eens op ‘n tyd self losgetorringde lappies was om ander mense te help.

Hy stuur.

Maar mense help.



Jou temalied vir vandag: Nobody

https://www.youtube.com/watch?v=nikJDUaki2c

bottom of page