“Whenever God calls a life into existence,
He fills it to the brim with ‘if’s’ and ‘thens’,
with possibilities and their consequences…”
Dis die einde van nog ‘n jaar. Met een voet in Afrika en een voet ver daarvandaan, resoneer hierdie aanhaling vanaand dwarsdeur my wese.
Oor 2 dae, 4 ure en 50 minute is dit die begin van ‘n nuwe dag, ‘n nuwe jaar en ‘n nuwe dekade – als in een oomblik. En in daardie oomblik lê die wonder van al die Here se drome vir my, vir jou… Soos die belofte in ‘n helder druppel genadewater waarvan die reikwydte totaal onbekend is terwyl dit nog vir lewe en dood aan die groenste-groen boomblaar klou.
Oor 2 dae, 4 ure en 49 minute sal dit tyd wees om te laat gaan.
365 dae se stres en swoeg en sweet…
365 dae se planne maak en beraam en vrees en val en vir al die verkeerde redes slapelose nagte deurworstel.
Want 2020 is hier.
2020.
20/20 visie? Perfekte visie.
Onbelemmerd deur die waas van gister se teleurstellings, vry van die berge van onoorkombare uitdagings wat jou agtervolg het tot by die deur van die Nuwe Jaar.
In die plek daarvan sien jy nou duidelik die krag van die Sionsberg waarop jy staan, hoe Sy arms Jerusalem omring met heuwels van hoop:
“Everyone who trusts the Lord
is like Mount Zion
that cannot be shaken
and will stand for ever.
Just as Jerusalem is protected
by mountains on every side,
the Lord protects His people
by holding them in His arms
now and for ever.”
Psalm 125: 1,2 CEV
Vanaand kon ek my nuwe 2020 dagboek se spierwit blaadjies insit en met groot verwagting daardeur blaai. Wie weet watter woorde nog hierop sal val? Watter emosies elke inskrywing sal uitlok…
Maar Hy weet.
Hy weet wanneer ek daardie boek sal oopmaak en wanneer ek daarin sal griffel.
Hy weet wanneer my hart lig sal wees en wanneer ek sal moet knyp om die trane in te hou.
En Hy skrik nie vir dit nie.
En omdat Hy nie skrik vir dit nie, behoort ek ook nie.
Want daar is nie net 2 dae, 4 ure en 45 minute in Sy hande nie.
In Sy hande is dit net ‘n komma, ‘n tussenpose, in die tyd wat Hy vir my uitgedeel het.
My Sekonde Deler.
Met deurboorde hande uitgesoek, elkeen net reg vir my.
Jou temalied vir die week: Holding on to You
Commenti