top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

My storie en jou storie


“You don’t have to replicate something perfectly to be inspired by it.”

Maxie Heppell


Dis my eie nuwe mantra. Want ai, die waterverf darem…


Maar ek is ook besig met Esegiël en wat ‘n vreemde boek is dit nie? Soveel beelde en drama, bitter min daarvan ‘n direkte weerspieëling van ons lewe in 2021. Tog rem die Here my nou al amper ‘n week op hoofstuk 6, en ek is eerlik: dit is redelik ontstellend.


Moedeloos gaan lees ek die inleidende redakteursnota tot Esegiël in die Contemporary English Version en miskien verstaan ek tog:


“When the Lord speaks to Ezekiel, he calls him ‘son of man’.

Although this expression shows that Ezekiel is a mere human,

it also shows that he has been appointed to preach the Lord’s message

to the people of Judah and Jerusalem.”


Dus vir my, straathoekprediker, is dít die invalshoek waaruit ek Esegiël kan lees en inspirasie kan vind.


Oom Gerrie en Tannie Hannetjie in Boknes blaai nou ‘n paar weke gelede deur ou Vermeulen foto-albums en stuur vir my ook sommer ‘n paar selfoonkiekies daarvan aan.


Foto’s wat ek nog nie vantevore gesien het nie – my pa by sy eerste rooi Datsuntjie waarop hy so trots was, foto’s van hom en my ma hulpeloos verlief in hulle prille jeug… kosbaar!


En dan was daar een waar die nefies en niggies almal saam met Ouma Sophie op Kareepan se yslike wraparound stoep se sandsteentrappe by die agterdeur sit. Behalwe as pawiljoen vir al die harde rugbywedstryde en Wimbledon-kragmetings op daai lowergroen grasperk, was dit ook die tuiste van klippie-skool.


Dit is seker een van die min tye dat die boonste trappie minder aansien dra as die onderste een!


“There is far more that unites us than divides us,” lui Mauricio Macri se woorde. Dit sou ‘n diep ongelukkige fout wees om die mense wat oënskynlik lukraak ons paadjies kruis op ‘n hoër trappie as onsself te sit. Om my eie lewe ‘n identiese ets te wil maak van die spore wat hulle los, sal nie net verkeerd wees nie, maar is ook gedoem tot mislukking.


Maar ek kan inspirasie vind waar mense kies om dit wat met hulle gebeur, te gebruik om die wêreld ‘n beter plek te maak.

Ek kan inspirasie vind in mense wat deur die geveg, sagter gemaak is.

Mense wat gefokus, maar nie obsessief is nie.

Mense wat hulle wysheid deel, maar steeds bereid is om te leer.


My storie en jou storie sal nooit dieselfde storie wees nie.

Maar mag die spore wat dit los, dieselfde getuienes nalaat: Die Liefde was hier.


“Love is more important than anything else.

It is what ties everything completely together.”

Colossians 3:14 CEV



Jou inspirasie vir die week: Work in progress





Comments


bottom of page