Baie vroeg een oggend lees ek ‘n stuk oor Maleagi 2 en daar word verwys na Psalm 25:1. Ek blaai soontoe, maar dit wil net nie vir my heeltemal sin maak nie. Want ek is by Jesaja 25:1 – halllooooooo!
En tog… dalk was ek veronderstel om die twee so saam te lees:
“Here, U is my God! Ek wil U prys en U Naam grootmaak.
U het asemrowende dinge gedoen; die dinge wat U lank gelede reeds beplan het,
het U stiptelik en volgens U woord uitgevoer.”
Jesaja 25:1 Die Boodskap
“Here, ek is heeltemal van U afhanklik. Ek kyk op na U.
My God, op U vertrou ek.”
Psalms 25:1,2 Die Boodskap
Dit was asof die Here my (moeë, vergeetagtige, twyfelende) hart net weer wou herinner hoekom ek maar op Hom kan vertrou. Want die dinge wat Hy lank gelede reeds beplan het, het Hy stiptelik uitgevoer. Met die kreatiwiteit en volmaakte kennis wat slegs ‘n Almagtige God kan hê.
Vat nou maar vir Jakob. Die profesie was dat Jesus uit die nageslag van Jakob gebore sou word.
Jakob se huwelikstorie begin met ‘n sepie-intrige soos min.
‘n Knoeierige skoonpa, ‘n onvervulde liefde, en dan uiteindelik – ‘n antwoord op sy hoop.
Maar die Here gebruik beide Jakob se teleurstelling en sy vreugde om Sy plan te volbring: Lea sou die ma wees van Juda, en Ragel die ma van Josef.
In Genesis 37 ontmoet ons vir Josef. Sou sy verhaal in die storielyn van vandag se draaiboekskrywers beland, sou die uiteinde tien-teen-een uitgeloop het op ‘n bloedige einde vir die broers wat hom so verraai het.
Maar die Here het ‘n plan.
Hy werk vergifnis in Josef se hart en daar kom vrede.
So word Juda se lewe ook gespaar.
En die Redder van die wêreld word uit die bloedlyn van Juda gebore.
Ek kan nie eers begin om te dink wat alles agter die skerms aan die gang is in die storie van my eie lewe nie.
Hoe die Here besig is om harte sag te maak,
deure oop te maak,
ander toe te maak, sodat
die voorspoed wat Hy vir my beplan,
tot uitvoer kan kom nie.
Dit is goed om te lees van al die asemrowende dinge wat Hy reeds gedoen het, beplan en stiptelik volgens Sy woord uitgevoer het.
Mag ek nooit vergeet dat my storie deel is van Sy storie nie.
“Ek wil die Here loof,
met alles wat in my is, wil ek Sy heilige Naam loof.
Ek wil die Here loof
en nie een van Sy weldade vergeet nie.”
Psalms 103:1 1983-vertaling
Jou inspirasie vir die week: Morning by morning
Comments