So baie kan gebeur in ‘n relatiewe kort tydjie. Voor ‘n mens jou oë uitvee is dit waarna jy so lank uitgesien het, hier. Of dit wat jy so gevrees het, verby. Of dit waarvoor jy so opgesien het, agter jou. Hoe jy agterna daarna kyk, bepaal baiekeer die manier waarop jy vorentoe beweeg.
“Hindsight's a wonderful thing.
If we all had it there would be no history to write about.”
Kate Atkinson
Op hierdie dag verlede week, het ons drietjies met twee tasse, twee rekenaarsakke, en armsvol ideale en drome in die pad geval van Jeffreys af Johannesburg lughawe toe. Die ry was ver en moeilik, veral vir ons swart-en-wit meisiekind wat nog nooit vir langer as ‘n halfuur kon stilsit nie. Maar ten minste was ons bymekaar.
Halfpad oornag en die volgende dag verder. En op daardie blouste van blou Maandae moes ons toe vir Katie by die mense aflaai wat sou sorg dat sy veilig by ons aankom, 11 000km verder. Ons sou haar eers vyf dae later weer sien.
Daardie gesig toe ons haar moes aflaai, sal ek nooit vergeet nie. En omdat sy te bang was om saam met die personeel na haar hok toe te gaan, moes ek haar inlok en mooi praat dat sy nie weer saam met my moes uit nie. Hierdie ma en pa het altwee ewe hard gesluk toe ons daar wegry…
Die volgende paar dae was vol, baie vol, maar kort-kort sou een van ons wonder waar Katie nou is, wat sy doen, of sy okay is. Sy was nog nooit so lank op haar eie nie. Nou was sy alleen tussen ‘n klomp vreemde mense en reuke en ander diere en ek kon nie help om te wonder of sy verlate gevoel het nie.
In ons harte het ons geweet dat dit soms vir ‘n klein rukkie moet sleg wees, sodat dit vir laaaaank kan lekker wees. Ons het geweet dat sy nie ‘n oomblik uit ons gedagtes was nie, en dat die hele uiteinde van hierdie beproewing op die ou einde vir haar tot voordeel sou wees. Ons sou weer bymekaar wees. Al het sý dit nie geweet nie.
Hierdie hele week kon ek nie help om te dink hoe dit resoneer met sommige van ons eie ondervindings hier op aarde nie.
Soms voel ons so ver van God af, dink ons dat Hy van ons vergeet het.
Terwyl Hy weet…
“Hierdie tyd is nie vir altyd nie.
Ek sal jou nooit vergeet nie.
Nooit sal ek jou in ‘n vreemde plek los sonder dat dit vir jou later groot waarde sal inhou nie.
As jy die toekoms kon in sien, sou jy rustig kon slaap.
Vertrou my net.”
Wanneer die volk in Nehemia 9 bymekaar kom, staan hulle vir drie ure stil en luister na die wet van God. Daarna bely hulle vir dieselfde lengte van tyd hulle sonde en daarna worship hulle.
Maar die gebed van vers 6 af, is vir my hartroerend. Hulle gaan haal die Here se ontferming oor hulle ver, van die skepping van die heelal af, en langs elke valleistop plant hulle ‘n palm van lof:
“Now you have kept your promise,
just as you always do.”
Nehemia 9:19 CEV
Toe ons Katie gister by die Animal Reception Centre gaan afhaal en sy ons weer sien, was alles vergete. Nie vir een oomblik het sy eers gesulk en ons verwyt en tieneragtig die deur agter haarself toegeklap nie.
Nee. Sy was gereed om die liefde wat ons ‘n hele week al vir haar gebottel het, in liefde te ontvang. Weer te vertrou.
“When we are seeking to God for mercy and relief in the time of distress,
It is encouragement to our faith and hope to look back upon our own and our fathers’ experiences:
‘Lord, thou hast done well for us formerly;
Shall it all be undone again?
Art thou not the same God still?’ “
Hy is, was, en sal altyd my Vergeet-my-nooit-nie God wees.
Jou temalied vir die week: No other love
https://www.youtube.com/watch?v=ZC9yJEkZsNI
Comments