top of page

Blog

Om te weet wanneer 'n nuwe blog-inskrywing geplaas word, registreer hier.

Search
Writer's pictureMaxie Heppell

Méér as 'n tikkie vryheid


“True repentance is always accompanied by some measure of faith.

It cherishes the hope of mercy.”


Hier in die Engelse Land begin werksdae by meeste plekke eers om 9h in die oggend. Dit maak sin as jy dink dat vir die grootste deel van die jaar, die son net so voor oopsluittyd eers opkom, maar dit kan nogal geduld vra as jy skielik ‘n nuwe band nodig het!


My skedule is steeds 8 – 5pm. Al is dit nog donker oppad werk toe soms, is die verkeer tussen ons slaapkamer en my tuiskantoor darem nie te erg nie.


Tyd en energie vir huishou saam met ‘n voldag se werk is egter gereeld maar min, so ek is dubbel-dankbaar wanneer ek aan my man dink!


HIerdie nuwe ritme wat ons moes vind het eintlik heel soomloos gebeur. Ek is nou die een wat in ‘n kantoor werk, en hy neem die huis en tuin onder sy vlerk, terwyl ek help stryk en badkamers skoonmaak en fyn goedjies doen waar sy sig hom lig daarvan af kry ;-)


Een dag hierdie week noem ek dit so terloops dat ek tog een-of-ander-tyd die kombuiskaste wil uitpak en uitwas. Dit is nie ‘n groot probleem nie, eerder net ‘n irritasie wat my tussen die oë tref elke keer wanneer ek die speserylaai ooptrek of die bokspap uithaal vroegoggend.


Maar dit bly ook net daar.

Dit irriteer my net nie genoeg om iets daaraan te doen nie.


My kantoor sit onder in die tuin met ‘n venster wat kombuis se kant toe kyk.

Donderdag-oggend, so teetyd se kant, vang my oog ‘n gewerskaf daarbinne.


Sal my man nou nie al wat ‘n kas is uitgepak het nie! Hy was besig om al die rakke uit te was en weer netjies terug te pak. Sommer net. Want hy weet nou dit irriteer my.


Was dít nou ‘n lekker verassing!


En behalwe dat die harde werk gedoen is, is daardie een klein irritasie wat in baie klein, rooi lettertjies heel onderaan my TO DO lysie geskryf was en gereeld ‘n draai in my gedagtes kom maak het, afgehandel.

En nog so ‘n tikkie van my is vry.


Daar kom tye dat ek die deurmekaar en taai laaie in my eie lewe vermy, eerder as om daarmee te deel.


Ek is óf nie lus vir drama nie, het nie die energie nie, óf is bang dat ek myself in die oë sal moet kyk en my deel aan die chaos sal moet erken.


So daai laai bly toe, maar kom loop ever so often ‘n draai deur my dag se gedagtes en ontstel my net genoeg om depressief te raak, maar nie genoeg om iets daaraan te doen nie.


Hallooo!


Noudat ek hulp gekry het om met my chaotiese kombuiskaste te deel, dink ek doodeenvoudig nooit meer daaraan nie.


As ek dan nie self kan nie, en hulp moet kry om die chaotiese spasies in my lewe uit te sorteer, sal dit ook nie meer ‘n faktor in my dag-tot-dag ervarings wees nie.


Ja, dit mag dalk drama, energie en selfverloëning neem, maar dit dra die belofte van méér as ‘n tikkie vryheid.


Die Here wou so graag vir die mense in Hosea se tyd nadertrek en hulle omgedopte lewens uitsorteer. Hulle kon egter nie eers op die punt kom om te erken daar is fout nie, wat nog te sê vir hulp vra.


“I, the Lord, would like to make

My nation prosper again

and to heal its wounds….


…I am the Lord, their God,

but in all their troubles

their pride keeps them

from returning to Me….


…I would have rescued them,

but they told Me lies.”

Hosea 6, 7 CEV


My pa was lief om te sê dat jy vir baie mense kan lieg, maar jy kan nie vir jouself lieg nie.


Sou dit deel van Israel en Juda se lyding wees?


Niemand sou geweet het van my suikerbestrooide, rysbedekte, borriegekleurde kombuiskas as ek dit nie genoem het vir die een by wie ek onvoorwaardelike liefde kry nie.


Mag daardie hoekies van my lewe waar al die gemorsies so maklik kom vassit my grensloos irriteer totdat ek daaroor kan praat.


Al is dit eers net met die spieël.



Jou inspirasie vir die week: Walking Free


Comments


bottom of page