“Die lewe is ongelooflik.
En dan is dit weer verskriklik.
En dan is dit weer ongelooflik.
En tussen die ongelooflike en die verskriklike is dit
doodgewoon en aards en roetine.”
Enigeen wat al seep uit ‘n langnekbottel met ‘n interessante, uitgekerfde motief op die maag moes kry, sal weet: Dis nie so maklik nie!
Hoe meer jy skud, hoe meer seepborrels word gebore.
Hoe meer jy karring met ‘n draadborseltjie, hoe minder kom jy by waar jy kan sien jy moet bykom.
Al wat regtig help, is om die seep in die bottel te gooi en onder die kraan te los. Soos wat die skoon water uit die kraan val tot binne-in die bottel se pens, werk dit met die seep, maak dit borrels en vervang dit op die uiteinde alles wat jy gehoop het om weg en uit die bottel te kry. Nou sit jy met helder skoon water en geen hygende asem nie.
Maar…Maak jy die kraan te vinnig oop, druk die skoon water te vinnig die seep by die mond van die bottel uit en kry dit nie kans om al die vuiligheidjies oppad boontoe goed sag te maak nie.
Maak jy die kraan te stadig oop, is daar doodeenvoudig nie genoeg druk om die seepborrels te vervang nie, en maak dit net nog borrels en nog borrels en nóg borrels.
Miskien vra die Here van my om net vir ‘n oomblik doodstil te staan en die skoonmaak vir Hom te los. Ek kan myself so maklik in ‘n knoop kry en bly karring, totdat dit net seepborrels om my is en ek skaars voor my kan sien. Maar die vuilgeit bly.
Ander kere dink ek ‘ek moet self’ en self het net nie die krag nie en niks gebeur nie. En die vuilgeit bly.
Maar as ek my oophou vir Sy invloei in my lewe en Hom toelaat om teen Sy Plan se spoed met Sy Gees in al my hoekies te werk totdat dit skoon is van alles wat pla, dan maak dit van my lewe ‘n skitterblink houer van Lewende Water, gereed om uit te deel waar dit nodig is.
Een oggend in die week kom hierdie by my op:
“God does His best work while the children are sleeping.”
Sonder hulp van ons kant af.
Gesus in die wete dat Hy in beheer is.
“I will answer your prayers
because I have set a time
when I will help
by coming to save you.
I have chosen you
to take my promise of hope
to other nations.”
Isaiah 49:8 CEV
So…
“Beleef die ongelooflike,
byt vas deur die verskriklike en
ontspan en haal asem in die doodgewone.
Dis hoe mens ‘n
hartverskeurende, sielsgenesende, ongelooflike, verskriklike, doodgewone lewe leef.
En dis asemrowend mooi!”
LR Knost
Jou temalied vir die week: Faithful now
Comments